NUMERI 1:5-54

NUMERI 1:5-54 Bybel vir almal (ABA)

Hier is die name van die persone wat vir julle moet help: “Van die stam Ruben: Elisur seun van Sedeür, van Simeon: Selumiël seun van Suri-Saddai, van Juda: Nagson seun van Amminadab, van Issaskar: Netanel seun van Suar, van Sebulon: Eliab seun van Gelon, van die nageslag van Josef, van Efraim: Elisama seun van Ammihud, van Manasse: Gamliël seun van Pedasur, van Benjamin: Abidan seun van Gidoni, van Dan: Agiëser seun van Ammi-Saddai, van Aser: Pagiël seun van Okran, van Gad: Eljasaf seun van Deüel, van Naftali: Agira seun van Enan. “Ek het hierdie stamhoofde uit die volksvergadering gekies. Hulle is die hoofde van die groepe in die leër van Israel.” Nadat die Here hierdie manne gekies het, het Moses en Aäron hulle geneem en die hele volksvergadering laat bymekaarkom op die eerste dag van die tweede maand. Elke man wat 20 jaar of ouer was, moes sê van wie se nageslag hy is en aan watter familie hy behoort. Dit was wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het in die Sinai-woestyn hulle name in die boek geskryf. Moses en Aäron en die twaalf leiers het die manne getel wat 20 jaar of ouer was, elkeen wat oorlog kon maak. Hulle het opgeskryf van wie se nageslag elke persoon is, aan watter familie hy behoort en by watter groep van die leër hy moet wees. Hier is die getalle van die manne van die nageslag van die stamvaders: Ruben, die oudste seun van Israel: 46 500 manne Simeon: 59 300 Gad: 45 650 Juda: 74 600 Issaskar: 54 400 Sebulon: 57 400 Efraim seun van Josef: 40 500 Manasse seun van Josef: 32 200 Benjamin: 35 400 Dan: 62 700 Aser: 41 500 Naftali: 53 400 Almal saam: 603 550 manne. Moses-hulle het nie die manne van die Levi-stam saam met die ander Israeliete getel nie. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moenie die name van die Leviete in hierdie boek skryf nie, jy moet hulle nie saam met die ander Israeliete tel nie. Jy self moet vir die Leviete sê wat hulle moet doen. Hulle moet sorg vir die tempel-tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tempel-tent. Hulle moet ook sorg vir al die stukke wat by die tempel-tent moet wees. Hulle moet die tempel-tent dra en daarmee werk en hulle moet hulle tente rondom die tempel-tent opslaan. Wanneer hulle die tempel-tent na 'n ander plek moet neem, dan moet die Leviete dit afslaan, en wanneer die tempel-tent op 'n nuwe plek moet staan, dan moet die Leviete dit opslaan. Wanneer 'n ander persoon naby die tempel-tent kom, dan moet julle hom doodmaak. Elke stam van Israel moet hulle tente opslaan op hulle eie plek en by hulle eie vlag in hulle groepe. Maar die Leviete moet hulle tente opslaan rondom die tent waarin die kis en die tien gebooie is. Hulle moet dit doen sodat die Here nie kwaad word en die volk Israel straf nie. Die Leviete moet werk met die tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tent.” Die Israeliete het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het, hulle het dit presies so gedoen.

NUMERI 1:5-54 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür; vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai; vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab; vir Íssaskar: Netáneël, die seun van Suar; vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon; vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur; vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni; vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai; vir Aser: Págiël, die seun van Ogran; vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel; vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan. Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was, en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof, soos die HERE Moses beveel het. En hy het hulle getel in die woestyn Sinai. En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel — hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Ruben was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd. Van die seuns van Símeon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Símeon was negen-en-vyftigduisend-driehonderd. Van die seuns van Gad, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Gad was vyf-en-veertigduisend-seshonderd-en-vyftig. Van die seuns van Juda, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Juda was vier-en-sewentigduisend-seshonderd. Van die seuns van Íssaskar, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Íssaskar was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Sébulon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Sébulon was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Josef, van die seuns van Efraim, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Efraim was veertigduisend-vyfhonderd; van die seuns van Manasse, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Manasse was twee-en-dertigduisend-tweehonderd. Van die seuns van Benjamin, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Benjamin was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Dan, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Dan was twee-en-sestigduisend-sewehonderd. Van die seuns van Aser, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Aser was een-en-veertigduisend-vyfhonderd. Van die seuns van Náftali, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Náftali was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het; twaalf man was dit, elkeen vir sy families. So was dan al die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek — al die geteldes dan was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig. Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê: Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings. Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem. En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.

NUMERI 1:5-54 Afrikaans 1983 (AFR83)

En dit is die name van die manne wat vir julle moet bystaan: “uit die stam Ruben: Elisur seun van Sedeür; uit Simeon: Selumiël seun van Suri-Saddai; uit Juda: Nagson seun van Amminadab; uit Issaskar: Netanel seun van Suar; uit Sebulon: Eliab seun van Gelon; uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Elisama seun van Ammihud, en uit Manasse: Gamliël seun van Pedasur; uit die stam Benjamin: Abidan seun van Gidoni; uit Dan: Agiëser seun van Ammi-Saddai; uit Aser: Pagiël seun van Okran; uit Gad: Eljasaf seun van Reüel; uit Naftali: Agira seun van Enan.” Hulle was die manne wat uit die vergadering aangewys is, leiers van die stamme van hulle voorvaders en stamhoofde van Israel. Moses en Aäron het hierdie manne wie se name genoem is, laat kom. Op die eerste dag van die tweede maand het hulle toe die hele volk bymekaargeroep. Daarna het elke weerbare man sy afkoms volgens stam en familie opgegee, almal van twintig jaar en ouer. Moses het hulle in die Sinaiwoestyn getel, soos die Here hom beveel het. Die manlike afstammelinge van die onderskeie stamvaders was: van Ruben die oudste seun van Israel 46 500 van Simeon 59 300 van Gad 45 650 van Juda 74 600 van Issaskar 54 400 van Sebulon 57 400 van Josef se seuns: Efraim 40 500 Manasse 32 200 van Benjamin 35 400 van Dan 62 700 van Aser 41 500 van Naftali 53 400 Dit was in die geval van elke stam die getal weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens afkoms en familie. Dit was dan die getal van die manne wat deur Moses, Aäron en die twaalf Israelitiese stamhoofde getel is. Altesaam was die getelde Israeliete 603 550. Dit was die weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens families. Die Leviete is nie as afsonderlike stam bygetel nie. Die Here het naamlik vir Moses gesê: “Die stam Levi moet jy nie tel nie en hulle getal moet jy nie by dié van die Israeliete voeg nie. Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore. Hulle moet die tabernakel en sy gereedskap dra; net húlle moet daarmee werk; en hulle moet hulle tente rondom die tabernakel opslaan. As die tabernakel verskuif moet word, moet die Leviete dit uitmekaarhaal; en as dit opgeslaan moet word, moet hulle dit opslaan. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om te help, moet doodgemaak word. “Die ander stamme van Israel moet hulle tente opslaan, elke stam op sy eie staanplek, rondom sy eie vaandel, ingedeel by sy eie leërafdeling, maar die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel met die getuienis opslaan, sodat my toorn nie oor die Israeliete kom nie. So moet die Leviete dan vir die tabernakel met die getuienis sorg.” Die Israeliete het alles presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

NUMERI 1:5-54 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: “Elisur, seun van Sedeür, vir Ruben; Selumiël, seun van Suri-Saddai, vir Simeon; Nagson, seun van Amminadab, vir Juda; Netanel, seun van Suar, vir Issaskar; Eliab, seun van Gelon, vir Sebulon; vir die nageslag van Josef: Elisama, seun van Ammihud, vir Efraim; en Gamliël, seun van Pedasur, vir Manasse; Abidan, seun van Gidoni, vir Benjamin; Agiëser, seun van Ammi-Saddai, vir Dan; Pagiël, seun van Ogran, vir Aser; Eljasaf, seun van Deüel, vir Gad; Agira, seun van Enan, vir Naftali.” Hierdie manne is deur die volksvergadering na vore geroep as leiers van die stamme van hulle voorvaders; hulle is die stamhoofde van Israel. Moses en Aäron het hierdie manne wat by die naam aangewys is, geneem en op die eerste dag van die tweede maand die hele volksvergadering bymekaar laat kom. Hulle het toe geslagsregisters oor hulle familiegroepe, volgens hulle families, opgestel met die volle name van dié wat twintig jaar en ouer was, kop vir kop, soos die HERE Moses beveel het. Moses het hulle in die Sinaiwoestyn ingeskryf. Die nageslag van Ruben, eersgeborene van Israel, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, kop vir kop, elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elke weerbare man was: 46 500 wat ingeskryf is vir die stam van Ruben. Die nageslag van Simeon, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, wat ingeskryf is met volle name, kop vir kop, elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elke weerbare man: 59 300 wat ingeskryf is vir die stam van Simeon. Die nageslag van Gad, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 45 650 wat ingeskryf is vir die stam van Gad. Die nageslag van Juda, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 74 600 wat ingeskryf is vir die stam van Juda. Die nageslag van Issaskar, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 54 400 wat ingeskryf is vir die stam van Issaskar. Die nageslag van Sebulon, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 57 400 wat ingeskryf is vir die stam van Sebulon. Die nageslag van Josef: Die nageslag van Efraim, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 40 500 wat ingeskryf is vir die stam van Efraim. Die nageslag van Manasse, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 32 200 wat ingeskryf is vir die stam van Manasse. Die nageslag van Benjamin, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 35 400 wat ingeskryf is vir die stam van Benjamin. Die nageslag van Dan, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 62 700 wat ingeskryf is vir die stam van Dan. Die nageslag van Aser, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 41 500 wat ingeskryf is vir die stam van Aser. Die nageslag van Naftali, hulle familieregister volgens hulle familiegroepe, volgens hulle families, met volle name, elke weerbare man van twintig jaar en ouer: 53 400 wat ingeskryf is vir die stam van Naftali. Dit is diegene wat ingeskryf is wat Moses, Aäron en die leiers van Israel, die twaalf manne, in die register ingeskryf het. Hulle het elkeen sy families verteenwoordig. Al dié wat ingeskryf is van die Israeliete, volgens hulle families, elke weerbare man in Israel van twintig jaar en ouer, hulle almal wat ingeskryf is, was 603 550. Die Leviete is volgens afstamming ingedeel. Hulle is nie saam met die ander ingeskryf nie, want die HERE het vir Moses gesê: “Net die stam van Levi moet jy nie saam met die Israeliete inskryf of tel nie. Jy moet self die Leviete aanstel oor die •tabernakel met die Getuienis, en oor al die gereedskap en toebehore daarvan. Hulle moet die tabernakel en al die gereedskap dra, en hulle moet daarna omsien. Hulle moet rondom die tabernakel kamp opslaan. Wanneer die tabernakel verskuif word, moet die Leviete dit afbreek, en wanneer die tabernakel weer opgeslaan word, moet die Leviete dit oprig. 'n Onbevoegde persoon wat naby kom, moet doodgemaak word. “ Die Israeliete moet elkeen op sy kampplek en elkeen langs sy eenheid, volgens hulle leërafdelings, kamp opslaan, maar die Leviete moet rondom die tabernakel met die Getuienis kamp opslaan, sodat daar nie 'n oordeel uit toorn oor die volksvergadering van die Israeliete kom nie. Die Leviete moet die verpligtinge nakom by die tabernakel met die Getuienis.” Die Israeliete het dit toe gedoen – alles wat die HERE Moses beveel het, het hulle net so gedoen.

NUMERI 1:5-54 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit is die name van die manne wat by jou moet staan: van die stam van Ruben; Elisur, die seun van Sedeur. Van Simeon; Selumiël, die seun van Surísaddai. Van Juda; Nagson, die seun van Amminadab. Van Issaskar; Netáneël, die seun van Suar. Van Sébulon; Eliab, die seun van Helon. Van die kinders van Josef: van Efraim; Elisama, die seun van Ammihud, van Manasse; Gamaliël, die seun van Pedasur. Van Benjamin; Abidan, die seun van Gideoni. Van Dan; Ahiëser, die seun van Ammisaddai. Van Aser; Pagiel, die seun van Okran. Van Gad; Eljasaf, die seun van Deuel. Van Naftali; Ahira, die seun van Enan. Dit was die bekendes van die vergadering, vorste van die stamme van hulle vaders, hoofde van duisende in Israel. En Moses en Aäron het hierdie manne geneem wat met hulle name uitgedruk is: En hulle het die hele vergadering bymekaar laat kom op die eerste dag van die tweede maand, en hulle het hulle stambome volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal van die name, van twintig jaar oud en daarbo, volgens hulle stembusse bekend gemaak. Soos die HERE Moses beveel het, so het Hy hulle in die Sinai-woestyn getel. En die kinders van Ruben, die oudste seun van Israel, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, volgens hulle kiesers, almal wat manlik is, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat bekwaam was om uit te gaan na die oorlog; Hulle geteldes van die stam van Ruben was ses en veertig duisend vyf honderd. Van die kinders van Símeon, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, hulle geteldes, volgens die getal name, volgens hulle kieslys, almal wat manlik is, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om oorlog toe te gaan; Hulle geteldes van die stam van Símeon was nege en vyftig duisend drie honderd. Van die kinders van Gad, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Gad was vyf en veertig duisend seshonderd en vyftig. Van die kinders van Juda, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Die wat van hulle getel is, van die stam van Juda, was veertienduisend-seshonderd. Van die kinders van Issaskar, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Issaskar was vier en vyftig duisend vier honderd. Van die kinders van Sébulon, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Sébulon was sewe en vyftig duisend vier honderd. Van die kinders van Josef, naamlik van die kinders van Efraim, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat bekwaam was om te gaan uit na die oorlog; Hulle geteldes van die stam van Efraim was veertig duisend vyf honderd. Van die kinders van Manasse, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Manasse was twee en dertig duisend twee honderd. Van die kinders van Benjamin, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Benjamin was vyf en dertig duisend vier honderd. Van die kinders van Dan, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Dan was twee en sestig duisend sewe honderd. Van die kinders van Aser, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens die huis van hulle vaders, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Aser was een en veertig duisend vyf honderd. Van die kinders van Náftali, volgens hulle geslagte, volgens hulle geslagte, volgens hulle families, volgens die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om uit te trek; Hulle geteldes van die stam van Náftali was drie en vyftig duisend vier honderd. Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die vorste van Israel getel het, twaalf man; elkeen was vir die huis van sy vaders. So was al die geteldes van die kinders van Israel, volgens die huis van hulle vaders, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in staat was om in Israel uit te trek; Al die geteldes was ses honderd duisend drie duisend vyf honderd en vyftig. Maar die Leviete volgens die stam van hulle vaders is nie onder hulle getel nie. Want die HERE het met Moses gespreek en gesê: Jy mag net die stam van Levi nie tel nie, en die getal daarvan onder die kinders van Israel nie opneem nie. Maar jy moet die Leviete aanstel oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy voorwerpe en oor alles wat daarby behoort; hulle moet die tabernakel en al sy gereedskap dra; en hulle moet dit bedien en laer opslaan rondom die tabernakel. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel opgeslaan word, moet die Leviete dit oprig; en die vreemdeling wat naby kom, moet gedood word. En die kinders van Israel moet hulle tente opslaan, elkeen volgens sy laer en elkeen volgens sy vaandel, volgens hulle leërskare. Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie; en die Leviete moet die diens van die tent van die Getuienis waarneem. En die kinders van Israel het gedoen net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.

NUMERI 1:5-54 Die Boodskap (DB)

Hier is die name van die mense wat julle moet help: uit die stam Ruben: Sedeür se seun Elisur; uit Simeon: Suri-Saddai se seun Selumiël; uit Juda: Amminadab se seun Nagson; uit Issaskar: Suar se seun Netanel; uit Sebulon: Gelon se seun Eliab; uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Ammihud se seun Elisama, en uit Manasse: Pedasur se seun Gamliël; uit die stam Benjamin: Gidoni se seun Abidan; uit Dan: Ammi-Saddai se seun Agiëser; uit Aser: Okran se seun Pagiël; uit Gad: Reüel se seun Eljasaf; uit Naftali: Enan se seun Agira.” Hierdie stamhoofde, wat almal leiers in hulle eie families is, is die mense wat toe deur die volksvergadering aangewys is. Moses en Aäron het saam met hierdie leiers toe die volk op daardie dag bymekaar laat kom om hulle te laat registreer volgens hulle familiegroepe en stamme. Al die mans van twintig en ouer se name is een vir een opgeskryf, volgens die Here se opdrag aan Moses. Dit het in die Sinaiwoestyn gebeur.  Die weerbare manne se getalle volgens hulle stamme was: van Israel se oudste seun Ruben 46 500 van Simeon 59 300 van Gad 45 650 van Juda 74 600 van Issaskar 54 400 van Sebulon 57 400 van Josef se seuns: Efraim 40 500 Manasse 32 200 van Benjamin 35 400 van Dan 62 700 van Aser 41 500 van Naftali 53 400 Daar was altesaam 603 550 weerbare manne wat twintig jaar en ouer was. Hulle getalle is bereken volgens hulle families. Hierdie getalle het nie die Leviete ingesluit nie, want die Here het vir Moses gesê: “Moenie die Leviete bytel wanneer jy die Israeliete tel om te sien hoeveel soldate jy het nie. Jy moet hulle gebruik om toesig te hou oor die tabernakel, die spesiale tent wat die bewys van my teenwoordigheid by julle is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die gereedskap en toebehore wat deel is van die tabernakel. Net hulle mag die tabernakel dra en met hierdie gereedskap werk. Daarom moet hulle hulle tente rondom die tabernakel opslaan waar julle ook al kamp. Wanneer die tabernakel verskuif moet word, is dit die Leviete se werk om dit op en af te slaan. Enigiemand anders wat dit naby die tent waag, moet onmiddellik doodgemaak word. Die res van die Israeliete moet hulle kamp volgens hulle verskillende leërafdelings opslaan. Elke afdeling het sy eie vlag. Die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel, wat sê dat Ek by julle is, opslaan. Hulle moet die tabernakel oppas. Dit dien as beskerming vir die res van die volk, sodat iemand nie per ongeluk daar inkom en Ek baie kwaad word vir die Israeliete nie.” Die Israeliete het toe alles presies volgens Moses se voorskrif gedoen.

NUMERI 1:5-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Die name van die mans wat julle moet bystaan uit die onderskeie stamme, is: Ruben Elisur seun van Sedeür Simeon Selumiël seun van Suri-Saddai Juda Nagson seun van Amminadab Issaskar Netanel seun van Suar Sebulon Eliab seun van Gelon Josef se seuns: Efraim Elisama seun van Ammihud Manasse Gamliël seun van Pedasur Benjamin Abidan seun van Gidoni Dan Agiëser seun van Ammi-Saddai Aser Pagiël seun van Okran Gad Eljasaf seun van Reüel Naftali Agira seun van Enan “Dit was die leiers wat uit elke familie gekies is.” Moses en Aäron en die leiers het daardie selfde dag nog die volk bymekaargeroep. Elke man bo twintig jaar is volgens sy stam en familienaam geregistreer. Hulle is daar in die Sinaiwoestyn getel, presies soos die HERE vir Moses gesê het. Die mans bo twintig, wat kon gaan veg, was: Ruben, die oudste seun van Israel 46 500 Simeon 59 300 Gad 45 650 Juda 74 600 Issaskar 54 400 Sebulon 57 400 Efraim seun van Josef 40 500 Manasse seun van Josef 32 200 Benjamin 35 400 Dan 62 700 Aser 41 500 Naftali 53 400 Dit was die getal mans wat kon gaan veg van twintig jaar en ouer, wat Moses en Aäron getel het volgens hulle families. Al die Israeliete bo twintig wat kon gaan veg, is volgens hulle families getel. Hulle was altesaam 603 550. Die Leviete was nie hierby ingesluit nie. Die HERE het vir Moses gesê: “Jy moenie die stam van Levi insluit by die res van Israel wanneer jy hulle tel nie. Jy moet die Leviete oor die tabernakel van die verbond aanstel. Plaas hulle in beheer van al sy meubels en toebehore. Hulle moet dit vervoer wanneer julle trek. Hulle moet ook vir sy toebehore sorg. Hulle moet die tabernakel versorg en daar rondom hulle tente opslaan. Wanneer julle verder trek, moet die Leviete dit elke keer afbreek en weer opslaan. “As enigiemand anders daar naby kom, sal hy doodgemaak word. Elke stam moet op sy bepaalde plek gaan staan onder die vaandel van sy afdeling. Die Leviete sal rondom die tabernakel van die verbond kamp opslaan om die Israeliete te beskerm teen die woede van die HERE. Die Leviete moet by die tabernakel wag staan.” Die Israeliete het presies net so gemaak soos die HERE vir Moses gesê het.