Hier is die name van die persone wat vir julle moet help:
“Van die stam Ruben: Elisur
seun van Sedeür,
van Simeon: Selumiël
seun van Suri-Saddai,
van Juda: Nagson
seun van Amminadab,
van Issaskar: Netanel
seun van Suar,
van Sebulon: Eliab
seun van Gelon,
van die nageslag van Josef,
van Efraim: Elisama
seun van Ammihud,
van Manasse: Gamliël
seun van Pedasur,
van Benjamin: Abidan
seun van Gidoni,
van Dan: Agiëser
seun van Ammi-Saddai,
van Aser: Pagiël
seun van Okran,
van Gad: Eljasaf
seun van Deüel,
van Naftali: Agira
seun van Enan.
“Ek het hierdie stamhoofde uit die volksvergadering gekies. Hulle is die hoofde van die groepe in die leër van Israel.”
Nadat die Here hierdie manne gekies het, het Moses en Aäron hulle geneem en die hele volksvergadering laat bymekaarkom op die eerste dag van die tweede maand. Elke man wat 20 jaar of ouer was, moes sê van wie se nageslag hy is en aan watter familie hy behoort. Dit was wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het in die Sinai-woestyn hulle name in die boek geskryf. Moses en Aäron en die twaalf leiers het die manne getel wat 20 jaar of ouer was, elkeen wat oorlog kon maak. Hulle het opgeskryf van wie se nageslag elke persoon is, aan watter familie hy behoort en by watter groep van die leër hy moet wees. Hier is die getalle van die manne van die nageslag van die stamvaders:
Ruben, die oudste seun
van Israel: 46 500 manne
Simeon: 59 300
Gad: 45 650
Juda: 74 600
Issaskar: 54 400
Sebulon: 57 400
Efraim seun van Josef: 40 500
Manasse seun van Josef: 32 200
Benjamin: 35 400
Dan: 62 700
Aser: 41 500
Naftali: 53 400
Almal saam: 603 550 manne.
Moses-hulle het nie die manne van die Levi-stam saam met die ander Israeliete getel nie. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moenie die name van die Leviete in hierdie boek skryf nie, jy moet hulle nie saam met die ander Israeliete tel nie. Jy self moet vir die Leviete sê wat hulle moet doen. Hulle moet sorg vir die tempel-tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tempel-tent. Hulle moet ook sorg vir al die stukke wat by die tempel-tent moet wees. Hulle moet die tempel-tent dra en daarmee werk en hulle moet hulle tente rondom die tempel-tent opslaan. Wanneer hulle die tempel-tent na 'n ander plek moet neem, dan moet die Leviete dit afslaan, en wanneer die tempel-tent op 'n nuwe plek moet staan, dan moet die Leviete dit opslaan. Wanneer 'n ander persoon naby die tempel-tent kom, dan moet julle hom doodmaak. Elke stam van Israel moet hulle tente opslaan op hulle eie plek en by hulle eie vlag in hulle groepe. Maar die Leviete moet hulle tente opslaan rondom die tent waarin die kis en die tien gebooie is. Hulle moet dit doen sodat die Here nie kwaad word en die volk Israel straf nie. Die Leviete moet werk met die tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tent.”
Die Israeliete het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het, hulle het dit presies so gedoen.