MARKUS 8:35-37
MARKUS 8:35-37 Bybel vir almal (ABA)
Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My en vir die goeie boodskap, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe?
MARKUS 8:35-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?
MARKUS 8:35-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe?
MARKUS 8:35-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit 'n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou 'n mens gee as losprys vir sy lewe?
MARKUS 8:35-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe verloor ter wille van My en die evangelie, hy sal dit red. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win en sy eie siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy siel?
MARKUS 8:35-37 Die Boodskap (DB)
As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen. Maar vra eers vir jouself die volgende vraag: Wat help dit as al die skatte in die wêreld joune is, maar daar is nie vir jou plek by God nie? ’n Mens kan nie vir jou ’n plek by God koop met al die geld in die wêreld nie.
MARKUS 8:35-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.