MARKUS 5:25-29 - Compare All Versions

MARKUS 5:25-29 AFR83 (Afrikaans 1983)

Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger. Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was.

MARKUS 5:25-29 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het, het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak; want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was.

MARKUS 5:25-29 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Daar was ’n vrou onder hulle wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie swaargekry onder die baie dokters wat haar behandel het, en om haar dokterskostes te dek het sy alles bestee wat sy gehad het. Tog het sy niks beter geword nie, maar eerder agteruitgegaan. Toe sy van Jesus hoor, het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak. Sy het gedink: “As ek net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Die bloeding het dadelik gestop en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy gesond is.

MARKUS 5:25-29 DB (Die Boodskap)

Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword. Sy het van Jesus gehoor en toe by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond!

MARKUS 5:25-29 ABA (Bybel vir almal)

Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het baie swaar gekry. Sy was by baie dokters en sy het alles wat sy gehad het, gegee om hulle te betaal, maar dit het nie gehelp nie. Sy het nog sieker geword. Sy het van Jesus gehoor en sy het van agter gekom, tussen die klomp mense deur. Sy het aan Jesus se klere geraak. Sy het gedink as sy net aan Jesus se klere kan raak, dan sal sy gesond word. Sy het dadelik opgehou bloei en sy het geweet haar liggaam is gesond.

MARKUS 5:25-29 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daar was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is.

MARKUS 5:25-29 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank 'n bloedvloeiing gehad het, En het baie gely van baie geneeshere, en het alles wat sy gehad het uitgegee, en dit was niks beter nie, maar het eerder erger geword, Toe sy van Jesus hoor, het sy agter in die pers gekom en sy kleed aangeraak. Want sy het gesê: As ek maar sy klere mag aanraak, sal ek gesond word. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog; en sy het in haar liggaam gevoel dat sy van daardie plaag genees is.