MARKUS 2:18-22
MARKUS 2:18-22 Bybel vir almal (ABA)
Johannes se dissipels en die Fariseërs was besig om te vas. Party mense kom toe en vra vir Jesus: “Johannes se dissipels vas, en die Fariseërs se dissipels vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?” Jesus het geantwoord: “Die vriende van die bruidegom kan nie vas wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Nee, wanneer die bruidegom by hulle is, kan sy vriende nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie, en dan sal hulle vas. Niemand maak ou klere reg met 'n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi.”
MARKUS 2:18-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae. En niemand werk 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom 'n erger skeur. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.
MARKUS 2:18-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog 'n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.”
MARKUS 2:18-22 Die Boodskap (DB)
Johannes die Doper se volgelinge en ’n ander groep streng godsdienstige Jode het daardie dag niks geëet nie, want dit was ’n godsdienstige vasdag. Van die mense vra toe vir Jesus: “Hoekom hou al die mense die godsdienstige vasdae, maar jou volgelinge steur hulle nie daaraan nie?” Jesus antwoord toe: “Laat Ek dit vergelyk met ’n bruilof. Sal die gaste net vir die eetgoed staan en kyk terwyl die fees aan die gang is en die bruidegom by hulle is? Dit sal tog nie gebeur nie. As die fees verby is en die bruidegom is weg, sal hulle miskien ophou eet. So is dit met My en my volgelinge.” Jesus verduidelik toe met ’n voorbeeld vir hulle dat dit wat Hy bring nuut en anders is. “As ’n mens ’n gat moet regmaak in ’n ou rok wat klaar gekrimp het, sal jy mos nie ’n nuwe stuk lap gebruik nie. Met die eerste was sal daardie nuwe stuk lap mos krimp en die ou rok nog erger skeur. Of laat Ek dit so stel: julle weet goed dat die leersakke waarin wyn vir ’n lang tyd gehou is, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Al julle wyn sal dan uitloop en dan sit julle nog met stukkende sakke ook. Nee, nuwe wyn sit ’n mens in sterk, nuwe sakke.”
MARKUS 2:18-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!”