MARKUS 2

2
Die verlamde man in Kapérnaüm.
(Mt. 9:1-8 en ooreenk. pl.)
1EN ná 'n paar dae het Hy weer in Kapérnaüm gekom, en die mense het gehoor dat Hy in die huis was.
2En dadelik het baie saamgekom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie; en Hy was besig om aan hulle die woord te verkondig.
3 En daar kom mense na Hom met 'n verlamde man wat deur vier gedra word.
4En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak.
5En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!
6En sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en in hulle harte geredeneer:
7Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?
8En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte?
9Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop?
10Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man:
11Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
12En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!
Roeping van Levi.
(Mt. 9:9-13 en ooreenk. pl.)
13EN Hy het weer uitgegaan langs die see, en die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer.
14 En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.
15En terwyl Hy in sy huis aan tafel was, kom daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel; want daar was baie, en hulle het Hom gevolg.
16En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?
17En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
Wat dit beteken om te vas.
(Mt. 9:14-17 en ooreenk. pl.)
18 EN die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?
19En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie.
20Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae.
21En niemand werk 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom 'n erger skeur.
22En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.
Die leer van Jesus oor die sabbat.
(Mt. 12:1-8 en ooreenk. pl.)
23 EN terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels al gaande are begin pluk.
24Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?
25En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het —
26hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Ábjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het?
27En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.
28Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.

Tans Gekies:

MARKUS 2: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid