MARKUS 16:1-20

MARKUS 16:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Nadat die Sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria, die ma van Jakobus, en ook Salome lekkerruik-olie gaan koop. Hulle wou dit op Jesus se liggaam gaan uitgooi. Baie vroeg die Sondag-oggend, net nadat die son opgekom het, het hulle by die graf gekom. Hulle het aangehou om vir mekaar te vra: “Wie sal vir ons die klip voor die graf wegrol?” Die klip was baie groot, maar toe hulle kyk, sien hulle iemand het klaar die klip voor die graf weggerol. Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman wat regs in die graf sit. Hy het lang wit klere aangehad. Die vroue was baie bang. Die man het vir hulle gesê: “Moenie skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret wat gekruisig is. Hy lewe weer, Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam gesit het. Gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus: ‘Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is soos Hy vir julle gesê het.’ ” Die vroue het uit die graf gegaan en weggehardloop. Hulle het gebewe, want hulle het groot geskrik. Hulle het vir niemand iets vertel nie, want hulle was baie bang. Jesus het vroeg die Sondag-oggend weer begin lewe. Hy het eerste aan Maria Magdalena verskyn. Dit is die vrou uit wie Jesus voorheen sewe duiwels uitgejaag het. Sy het vir die dissipels wat altyd saam met Hom was, gaan vertel dat Jesus aan haar verskyn het. Hulle was nog besig om te huil en te treur. Toe hulle hoor Jesus lewe en Maria het Hom gesien, het hulle dit nie geglo nie. Daarna het Jesus verskyn aan twee van sy dissipels wat buite die stad was. Jesus het toe anders gelyk. Die twee dissipels het teruggegaan na die stad en hulle het vir die ander dissipels daarvan vertel, maar die ander dissipels het hulle ook nie geglo nie. Later het Jesus verskyn aan die elf dissipels terwyl hulle besig was om te eet. Hy het met hulle geraas omdat hulle nie geglo het nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die mense glo nie wat gesê het dat hulle Hom gesien het nadat Hy weer begin lewe het. Jesus het vir hulle gesê: “Gaan na die hele wêreld en bring die goeie boodskap vir al die mense. As iemand glo en gedoop is, dan sal God hom red, maar as iemand nie glo nie, dan sal God hom straf. Die mense wat glo, sal wonderwerke kan doen: Hulle sal my Naam gebruik om duiwels uit te jaag en hulle sal nuwe tale kan praat. Hulle sal slange met hulle hande optel, en as hulle iets drink wat giftig is, dan sal dit hulle nie siek maak nie. Hulle sal hulle hande op siek mense sit, en die siek mense sal gesond word.” Nadat die Here Jesus met die dissipels gepraat het, het God Hom na die hemel geneem, en Jesus het langs God gaan sit, op die belangrikste plek. Sy dissipels het oral die goeie boodskap gebring. Die Here het met hulle saamgewerk sodat hulle wonderwerke kon doen. So het God bewys dat die goeie boodskap waar is.

MARKUS 16:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf. En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol? En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot. En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle 'n jongman, met 'n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik. En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het. Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees. EN nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het. Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom gewees het, terwyl hulle treur en ween. En toe hulle hoor dat Hy lewe en deur haar gesien is, het hulle dit nie geglo nie. En hierna het Hy in 'n ander gedaante verskyn aan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld. Hulle het ook gegaan en dit aan die ander vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie. Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word. Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.

MARKUS 16:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie. Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.” Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

MARKUS 16:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop, sodat hulle Hom kon gaan salf. Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?” Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was 'n baie groot klip. Toe hulle die graf binnegaan, het hulle 'n jong man met 'n lang wit stola om aan die regterkant sien sit, en hulle was ontsteld. Maar hy sê vir hulle: “Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir •Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ ” Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang. Nadat Jesus vroeg die oggend op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy voorheen sewe demone uitgedryf het. Sy het dit gaan vertel vir die mense wat by Hom was, terwyl hulle treur en huil. Toe hulle hoor dat Hy leef en sy Hom gesien het, het hulle dit nie geglo nie. Hierna het Hy in 'n ander gestalte aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland. Hulle het dit vir die res gaan vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie. Later het Hy aan die elf verskyn terwyl hulle vir ete aangeleun het. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle die mense wat gesien het dat Hy opgewek is, nie geglo het nie. Hy sê toe vir hulle: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal verlos word; maar wie nie tot geloof gekom het nie, sal veroordeel word. Hierdie tekens sal hulle wat tot geloof gekom het, vergesel: In my Naam sal hulle demone uitdryf, in nuwe tale praat, en slange met hulle hande optel. As hulle iets dodeliks sou drink, sal dit hulle nie kwaad aandoen nie, en op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe uitgegaan en oral gepreek. Die Here het met hulle meegewerk en die prediking bevestig met wondertekens wat daarop gevolg het. •Amen.

MARKUS 16:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe die sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jakobus, en Salome speserye gekoop om Hom te kom salf. En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle by die graf gekom met die opgang van die son. En hulle het onder mekaar gesê: Wie sal ons die klip van die ingang van die graf wegrol? En toe hulle kyk, sien hulle dat die klip weggerol was, want dit was baie groot. En toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jong man aan die regterkant sit, geklee in 'n lang wit kleed; en hulle was verskrik. En Hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus, die Nasaret, wat gekruisig is; Hy het opgestaan; hy is nie hier nie; kyk die plek waar hulle hom neergelê het. Maar gaan, sê vir sy dissipels en Petrus dat Hy voor julle uitgaan na Galilea; daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het. En hulle het gou uitgegaan en van die graf gevlug; want hulle het gebewe en was verbaas; en hulle het niks aan iemand gesê nie; want hulle was bang. En toe Jesus vroeg op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy sewe duiwels gedryf het. En sy het gegaan en dit aan die wat by hom was, vertel terwyl hulle getreur en geween het. En toe hulle hoor dat hy lewe en deur haar gesien is, het hulle nie geglo nie. Daarna het Hy in 'n ander gedaante aan twee van hulle verskyn terwyl hulle geloop het en die land ingegaan het. En hulle het gegaan en dit aan die oorblywendes vertel; en hulle het hulle nie geglo nie. Daarna het Hy aan die elf verskyn terwyl hulle aan tafel was, en hulle verwyt met hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle die wat Hom na sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. En Hy sê vir hulle: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan elke skepsel. Hy wat glo en gedoop word, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir hulle wat glo, sal hierdie tekens volg; In my Naam sal hulle duiwels uitdryf; hulle sal in nuwe tale spreek; Hulle sal slange opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal die hande op die siekes lê, en hulle sal gesond word. Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy in die hemel opgeneem en aan die regterhand van God gaan sit. En hulle het uitgegaan en oral gepreek, terwyl die Here met hulle gewerk het en die woord bevestig het deur tekens wat daarop volg. Amen.

MARKUS 16:1-20 Die Boodskap (DB)

Toe die son sak en die sabbat verby was, het Maria Magdalena, Salome en Maria, Jakobus se ma, olie gaan koop wat lekker ruik om dit op die liggaam van Jesus te gaan gooi. Die volgende oggend vroeg, net toe die son uitkom, is hulle weg graf toe. Hulle het onder mekaar gewonder: “Wie gaan ons help om daardie groot rots voor die ingang van die graf weg te kry?” Daar gekom, kon hulle hulle oë byna nie glo nie. Die groot rots het eenkant weggerol gelê. Hulle gaan toe in die graf in wat soos ’n kamertjie gelyk het. Hulle skrik hulle byna boeglam, want daar aan hulle regterkant sit ’n jongman met spierwit klere aan. “Moenie weghardloop nie,” sê die man. “Ek weet julle is op soek na Jesus van Nasaret. Hy is nie meer hier nie, want Hy het uit die dood lewendig geword. “Kom kyk maar hier waar hulle sy lyk neergesit het. Gaan vertel vir Petrus en sy ander volgelinge: Jesus is voor julle uit Galilea toe. Daar sal julle Hom kry soos Hy vir julle gesê het.” Die vroue draai toe om en hardloop met bewende bene so al wat hulle kan terug, want hulle het groot geskrik. Hulle het hulle monde gehou en met niemand daaroor gepraat nie, want hulle was te bang. (Tog het hulle vir Petrus en die ander kortliks vertel wat vir hulle gesê is. Daarna het Jesus self deur hulle die wonderlike boodskap oor Hom wat altyd waar sal bly, van die ooste tot in die weste laat verkondig. Hiervan kan ons seker wees.) Vroeg daardie Sondagoggend het Jesus weer lewendig geword. Maria Magdalena het Hom eerste gesien. (Dit was sy uit wie Jesus mos sewe demone verjaag het.) Sy is toe daar weg om vir die ander volgelinge van Jesus te gaan vertel. Hulle almal was nog baie hartseer oor alles wat gebeur het en het gehuil. Toe Maria vir hulle vertel dat Jesus leef en dat sy Hom gesien het, wou hulle nie ’n woord glo wat sy sê nie. ’n Rukkie later het nog twee, wat iewers in die platteland op pad was, Jesus op ’n ander manier gesien. Hulle het vir die ander gaan vertel wat gebeur het, maar dié het hulle ook nie geglo nie. ’n Ander keer was Jesus se elf getrouste volgelinge besig om te eet toe Jesus daar tussen hulle staan. Hy het ernstig met hulle daaroor gepraat dat hulle nie wil glo dat Hy lewe nie en dat hulle so hardkoppig is om nie die ander wat Hom lewendig gesien het te wil glo nie. Hy sê vir hulle: “Gaan vertel vir al die mense die goeie nuus oor My. Almal moet dit hoor. “Elkeen wat julle boodskap glo en by julle as Christene aansluit deur gedoop te word, sal gered word. Iemand wat dit nie wil glo nie, kan maar vergeet: God sal hom straf. “Dié wat glo, sal baie wonderlike dinge doen. Ek sal hulle die krag gee om demone uit mense te verjaag. Hulle sal spesiale nuwe tale kan praat en sal slange met hulle kaal hande optel. Gif en sulke dinge sal hulle ook niks kan aandoen nie. Hulle sal net aan siek mense raak en die mense sal dadelik gesond word.” Daarna is die Here Jesus terug hemel toe om by God self op ’n ereplek te sit. Sy volgelinge het die boodskap oral gaan vertel. Die Here self het hulle gehelp en het gewys dat dit waar is deur wonderlike dinge daarna te laat gebeur.

MARKUS 16:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die volgende aand, toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, Jakobus se ma, en Salome aromatiese olie gaan koop om Jesus se liggaam daarmee te behandel. Baie vroeg Sondagmôre, net toe die son opkom, kom hulle by die graf aan. Op pad soontoe het hulle nog onder mekaar gewonder wie die klip voor die ingang van die graf vir hulle sou wegrol. Maar toe hulle daar aankom en opkyk, sien hulle dat die klip – dit was ’n baie groot een – reeds weggerol was. Hulle gaan toe in die graf in en daar op die regterkant sien hulle ’n jong man in wit klere sit. Hulle was heeltemal verskrik. Hy sê toe vir hulle: “Moenie so skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret, die Een wat gekruisig is. Hy is nie hier nie. Hy is opgewek uit die dood! Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam neergelê het. Maar gaan sê julle vir sy dissipels, Petrus ingesluit: Hy gaan julle solank vooruit na Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien soos Hy vir julle gesê het.” Die vroue het toe van die graf af weggevlug, want hulle was vol vrees en ontsteltenis. Hulle het egter vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang. Maar die vroue het hierdie opdragte kortliks aan Petrus en dié by hom vertel. Hierna het Jesus hulle self van die ooste tot die weste uitgestuur met die heilige en onfeilbare boodskap wat ewige verlossing skenk. Amen. Dit was vroeg die Sondagmôre wat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het. Sy het dit toe gaan vertel aan die dissipels wat besig was om te rou en te huil. Maar toe hulle hoor dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, wou hulle haar nie glo nie. Daarna het Hy in ’n ander gedaante aan twee van hulle verskyn wat van Jerusalem op pad was na die platteland. Hulle het toe teruggegaan en dit vir die ander dissipels vertel, maar dié het selfs vir hulle nie geglo nie. Nog later het Hy aan die elftal self verskyn terwyl hulle besig was om saam te eet. Hy het hulle aangespreek oor hulle ongeloof – hulle koppige onwilligheid om dié te glo wat Hom ná sy opstanding gesien het. Toe het Hy hulle beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral. Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word. Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal bose geeste in my Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat. Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus klaar met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy op die ereplek aan God se regterhand gaan sit. Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid