MARKUS 12:28-34
MARKUS 12:28-34 Bybel vir almal (ABA)
Een van die skrifgeleerdes het gehoor Jesus en die Sadduseërs praat met mekaar en hy het nader gekom. Toe hy hoor dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy vir Jesus: “Wat is die belangrikste wet in die Ou Testament?” Jesus het geantwoord: “Die belangrikste wet is: ‘ Julle moet luister, mense van Israel, die Here ons God is die enigste Here, en jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede belangrike wet is: ‘ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Daar is nie 'n ander wet wat belangriker is nie.” Die skrifgeleerde sê toe vir Jesus: “Jy het goed geantwoord, Meneer. Dit is waar wat jy sê: ‘ Daar is net een God, daar is nie 'n ander God nie.’ Dit is belangrik ‘ om vir God lief te wees met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag’ en ‘ om lief te wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Dit is belangriker as al die brand-offers en al die ander offers wat mense vir God gee.” Toe Jesus hoor dat die skrifgeleerde goed geantwoord het, het Hy vir hom gesê: “Jy verstaan nou amper wat dit beteken dat God Koning is.” Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie.
MARKUS 12:28-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal? En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is 'n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie. En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.
MARKUS 12:28-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” “Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie. ’ En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.” Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.
MARKUS 12:28-34 Die Boodskap (DB)
’n Geleerde Jood wat veral goed was met die uitlê van wat die Skrif sê, kom toe daar verby. Hy het gehoor met watter goeie antwoord Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hy begin toe ook met Jesus argumenteer: “As ’n mens nou aan al die opdragte en wette van God dink, watter een dink jy is die belangrikste?” Jesus antwoord toe: “Boaan die lys staan: Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is. Jy moet Hom liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Maar langs hierdie opdrag staan ’n tweede een: jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy self is. Daar is nie ’n ander opdrag wat naby hierdie twee kom nie.” “Jy het dit baie mooi gestel. Ek kan sien dat jy mense goed kan leer,” sê die Joodse geleerde toe. “Dit is waar, daar is net een God en daar is geen ander nie. Dat ons Hom moet liefhê met alles wat ons is en het, is regtig baie belangriker as allerhande godsdienstige dingetjies wat ons doen, soos om geskenke vir God tempel toe te bring of om spesiaal tempel toe te kom om aan God te offer.” Jesus kon sien dat hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat en het toe vir hom gesê: “Jy is baie naby aan God se nuwe wêreld.” Die vrae het opgedroog, want niemand het meer kans gesien om met Jesus in ’n argument betrokke te raak nie.
MARKUS 12:28-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?” Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.” Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is. En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.” Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie.