Markus 12:28-34

Markus 12:28-34 DB

’n Geleerde Jood wat veral goed was met die uitlê van wat die Skrif sê, kom toe daar verby. Hy het gehoor met watter goeie antwoord Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hy begin toe ook met Jesus argumenteer: “As ’n mens nou aan al die opdragte en wette van God dink, watter een dink jy is die belangrikste?” Jesus antwoord toe: “Boaan die lys staan: Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is. Jy moet Hom liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Maar langs hierdie opdrag staan ’n tweede een: jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy self is. Daar is nie ’n ander opdrag wat naby hierdie twee kom nie.” “Jy het dit baie mooi gestel. Ek kan sien dat jy mense goed kan leer,” sê die Joodse geleerde toe. “Dit is waar, daar is net een God en daar is geen ander nie. Dat ons Hom moet liefhê met alles wat ons is en het, is regtig baie belangriker as allerhande godsdienstige dingetjies wat ons doen, soos om geskenke vir God tempel toe te bring of om spesiaal tempel toe te kom om aan God te offer.” Jesus kon sien dat hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat en het toe vir hom gesê: “Jy is baie naby aan God se nuwe wêreld.” Die vrae het opgedroog, want niemand het meer kans gesien om met Jesus in ’n argument betrokke te raak nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 12:28-34

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid