MARKUS 10:32-34
MARKUS 10:32-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop. Die dissipels was verbaas, en dié wat hulle gevolg het, was bang. Hy het die twaalf weer opsy geneem en begin om hulle te vertel van die dinge wat met Hom gaan gebeur. “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”
MARKUS 10:32-34 Die Boodskap (DB)
Jesus-hulle was op pad Jerusalem toe. Jesus het voor geloop terwyl sy volgelinge agternagekom het. Sy getrouste volgelinge was omgekrap en ontsteld terwyl ander bang begin voel het. Weer ’n keer vat Hy sy getrouste volgelinge eenkant toe en vertel vir hulle mooi wat met Hom gaan gebeur. “Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee. Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.”
MARKUS 10:32-34 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur. Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”
MARKUS 10:32-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hulle was op die pad terwyl hulle opgaan na Jerusalem, en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees. En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur. Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene; en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.
MARKUS 10:32-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word. Toe het Hy weer die twaalf opsy geneem en hulle begin vertel wat met Hom gaan gebeur: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.”
MARKUS 10:32-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle was op pad na Jerusalem toe; en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle gevolg het, was hulle bang. En hy het weer die twaalf geneem en hulle begin vertel wat met hom sou gebeur, en gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem; en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en aan die skrifgeleerdes; en hulle sal hom tot die dood veroordeel en hom aan die heidene oorlewer. En hulle sal met hom spot en hom gésel en op hom spuug en hom doodmaak; en op die derde dag sal hy opstaan.
MARKUS 10:32-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur: “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode. Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”