MARKUS 10:1-12
MARKUS 10:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Jesus weggegaan het van die stad Kapernaum, het Hy oor die Jordaan-rivier gegaan en Hy het toe in die provinsie Judea gekom. 'n Groot klomp mense het rondom Jesus bymekaargekom en Hy het vir hulle weer begin leer soos Hy altyd gedoen het. Party Fariseërs het na Hom toe gekom. Hulle wou hê Jesus moes iets sê wat vir Hom probleme kan gee. Hulle het vir Hom gevra: “Mag 'n man skei van sy vrou?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Moses vir julle gesê?” Hulle het gesê: “ Moses het gesê 'n man mag vir sy vrou 'n skeibrief gee en van haar skei.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses vir julle hierdie wet gemaak. Maar as God 'n man en 'n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie. God wat in die begin alles gemaak het, het die mense so gemaak dat hulle mans en vroue is. “ Daarom sal 'n man weggaan van sy pa en sy ma, en hy sal saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal soos een mens wees. “Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een.” Later, toe hulle weer terug in die huis was, het die dissipels vir Jesus uitgevra oor wat Hy gesê het. Jesus het vir hulle gesê: “As 'n man van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk teen sy vrou. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander man trou, dan pleeg sy egbreuk.”
MARKUS 10:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het opgestaan en daarvandaan deur die oorkant van die Jordaan na die gebied van Judéa gegaan; en weer het 'n skare by Hom vergader; en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer geleer. Toe kom die Fariseërs na Hom; en, om Hom te versoek, stel hulle Hom die vraag of dit 'n man geoorloof is om van sy vrou te skei? Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel? En hulle sê: Moses het toegelaat om 'n skeibrief te skrywe en van haar te skei. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe, maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.
MARKUS 10:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer. Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag 'n man van sy vrou skei?” Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?” “Moses het toegelaat dat iemand 'n skeibrief opstel en skei,” het hulle geantwoord. Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.” In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”
MARKUS 10:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het gereedgemaak, daarvandaan vertrek en in die gebied van Judea oorkant die Jordaan aangekom. Die skares stroom toe opnuut na Hom toe, en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer onderrig. Daar het ook •Fariseërs nader gekom en, om Hom te toets, gevra of dit vir 'n man toelaatbaar is om van sy vrou te skei. Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?” Hulle antwoord toe: “Moses het 'n man toegelaat om 'n skeibrief te skryf en te skei. ” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is weens julle harde harte dat hy hierdie reël vir julle neergelê het; ‘maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Terug in die huis het die dissipels Hom hieroor uitgevra. Hy antwoord hulle toe: “Wie van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, pleeg egbreuk teenoor haar; en as sy van haar man skei en met 'n ander man trou, pleeg sy egbreuk.”
MARKUS 10:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het daarvandaan opgestaan en in die gebiede van Judéa aan die oorkant van die Jordaan gekom; en soos hy gewoond was, het hy hulle weer geleer. Toe kom die Fariseërs na Hom en vra Hom: Is dit 'n man geoorloof om van sy vrou te skei? hom verlei. En hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel? En hulle het gesê: Moses het toegelaat om 'n skeibrief te skryf en van haar te verwyder. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle hart het Hy hierdie gebod vir julle geskryf. Maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef; En hulle twee sal een vlees wees; so dan is hulle nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra. En hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar. En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander getroud is, pleeg sy egbreuk.
MARKUS 10:1-12 Die Boodskap (DB)
Van daar af is Jesus in ’n suidelike rigting na Judea toe. Hulle is aan die oorkant van die Jordaan langs. Mense het weer om Jesus saamgedrom en soos Hy gewoonlik gemaak het, het Hy hulle van God vertel. Van die streng godsdienstige Fariseërs het ook by die groep aangesluit. Hulle wou kyk of Jesus Hom nie dalk kon vaspraat en so in die moeilikheid beland nie. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man van sy vrou skei?” “Wat het Moses vir julle in sy wet gesê?” vra Jesus toe. “Wel,” sê hulle, “Moses het gesê ’n man kan ’n brief skryf waarin hy sê dat hy van sy vrou wil skei en dan is alles verby. Sy moet dan uit die huis uit.” “Dit was omdat julle so hardkoppig en vol sonde is dat Moses dit gesê het,” antwoord Jesus toe. “Reg van die begin af het God mans en vroue gemaak. As ’n man en ’n vrou trou, gaan hy van sy ouers af weg en bly saam met sy vrou. Hulle twee is dan soos een mens. As God twee mense so aan mekaar vasgemaak het, mag niemand die band tussen hulle losmaak nie.” Toe hulle later weer saam by die huis was, het sy getrouste volgelinge Jesus gevra wat Hy daarmee bedoel het. Jesus verduidelik toe: “As ’n man van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou, is hy in God se oë ontrou aan sy eerste vrou. Net so, as die vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, is sy ook in God se oë ontrou aan haar eerste man.”
MARKUS 10:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig. ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?” “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie. Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte. God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’ En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.” Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou. En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”