MATTEUS 9:36-38
MATTEUS 9:36-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarop sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien.”
MATTEUS 9:36-38 Bybel vir almal (ABA)
Baie mense het na Jesus toe gekom, en toe Hy al die mense sien, het Hy baie jammer gevoel vir hulle. Hulle het gelyk soos mense wat swaarkry, maar daar was niemand wat hulle kon help nie. Hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen. Die ryp koring is die mense wat aan die Here behoort. Julle moet bid tot die Here aan wie die ryp koring behoort en julle moet vra dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring af te sny.”
MATTEUS 9:36-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.
MATTEUS 9:36-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”
MATTEUS 9:36-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder 'n herder. Toe sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid daarom die Here van die oes dat Hy arbeiders uitstuur om sy oes in te samel.”
MATTEUS 9:36-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel oor hulle, omdat hulle beswyk het en verstrooi was soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min; Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes sal uitstuur.
MATTEUS 9:36-38 Die Boodskap (DB)
Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder ’n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel. Vra God, die Boer wie se oes dit is, om nog ekstra arbeiders te stuur. Daarvoor moet julle ernstig bid!”