MATTEUS 9:32-34
MATTEUS 9:32-34 Bybel vir almal (ABA)
Die twee mans het weggegaan, en toe bring die mense iemand na Jesus toe. Die man kon nie praat nie, hy was stom. Daar was 'n duiwel in hom. Jesus het die duiwel uitgejaag, en toe kon die man praat. Al die mense was baie verbaas en hulle het gesê: “So iets het nog nooit hier by ons, die volk Israel, gebeur nie.” Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is die leier van die duiwels wat vir Jesus help om die duiwels uit te jaag.”
MATTEUS 9:32-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En terwyl hulle weggaan, bring die mense 'n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe. En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie! Maar die Fariseërs het gesê: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.
MATTEUS 9:32-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat die twee blindes die huis verlaat het, het die mense 'n man na Hom toe gebring wat stom was omdat hy in die mag van 'n bose gees was. Nadat die bose gees uitgedryf is, het die stom man begin praat. Die menigte het hulle verwonder en gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.” Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.”
MATTEUS 9:32-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het toe vertrek, en kyk, 'n man wat stom was, en deur 'n demoon besete, is na Hom gebring. Nadat die demoon uitgedryf is, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd en het gesê: “So iets is nog nooit in Israel gesien nie.” Maar die •Fariseërs het gesê: “Deur die aanvoerder van die demone dryf Hy die demone uit.”
MATTEUS 9:32-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Terwyl hulle uitgaan, het hulle 'n stom man wat van 'n duiwel besete was, na Hom gebring. En toe die duiwel uitgedryf is, het die stomme gepraat; Maar die Fariseërs het gesê: Hy dryf die duiwels uit deur die owerste van die duiwels.
MATTEUS 9:32-34 Die Boodskap (DB)
Net daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van ’n bose gees was. Die bose gees het gekeer dat hy ’n woord kon uitkry. Jesus het die bose gees verwilder en dadelik het die man begin praat. Die mense was skoon uit die veld geslaan. “Nog nooit het ons so iets in Israel gesien nie!” het hulle vir mekaar gesê. “Nee wat,” het die Fariseërs verskoning probeer soek, “hierdie man werk vir die duiwel. Daarom luister die bose geeste so vir hom!”
MATTEUS 9:32-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die twee wat gesond gemaak is, was nog besig om te vertrek toe mense iemand na Hom toe bring wat stom was omdat ’n bose gees beheer oor hom gehad het. Nadat Jesus die bose gees uit hom gejaag het, het die stom man begin praat. Die skare was oorweldig en het gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie!” Maar die Fariseërs se reaksie was: “Dit is Beëlsebul wat Hom help om bose geeste uit mense uit te jaag.”