MATTEUS 8:2-3
MATTEUS 8:2-3 Bybel vir almal (ABA)
Daar kom toe 'n melaatse man na Jesus toe en hy kniel voor Hom. Hy het vir Jesus gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.” Die man het dadelik gesond geword. Hy was nie meer melaats nie.
MATTEUS 8:2-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en daar het 'n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig.
MATTEUS 8:2-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.
MATTEUS 8:2-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En kyk, 'n melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil – word rein!” En hy is onmiddellik van sy melaatsheid gereinig.
MATTEUS 8:2-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, daar kom 'n melaatse en het Hom aanbid en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. En Jesus het sy hand uitgesteek en hom aangeraak en gesê: Ek wil; wees jy rein. En dadelik is sy melaatsheid gereinig.
MATTEUS 8:2-3 Die Boodskap (DB)
’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!” Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond!
MATTEUS 8:2-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar kom toe onverwags ’n man met ’n ernstige velsiekte nader en val voor Jesus neer met die woorde: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” En dadelik het sy velsiekte verdwyn.