MATTEUS 8:16-31

MATTEUS 8:16-31 Bybel vir almal (ABA)

Daardie aand het hulle baie mense na Jesus toe gebring, daar was duiwels in die mense. Jesus het met die onrein geeste gepraat en Hy het hulle uitgejaag. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak. Jesus het dit gedoen, sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: “ Hy het self ons pyn gedra en Hy het ons siektes weggeneem.” Jesus het gesien daar is baie mense by Hom. Toe sê Hy vir sy dissipels hulle moet saam met Hom gaan na die ander kant van die See van Galilea. Daar het 'n skrifgeleerde na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Meneer, ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls woon in neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie 'n plek waar Ek kan woon nie.” Een van die ander mense sê toe vir Hom: “Here, ek moet eers wag tot my pa dood is en ek hom begrawe het, dan sal ek saam met U gaan.” Maar Jesus antwoord hom: “Kom nou saam met My. Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het.” Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het saam met Hom gegaan. Daar het 'n baie groot storm op die see gekom en die branders het bo-oor die boot geslaan. Maar Jesus het vas geslaap. Die dissipels het na Jesus toe gegaan en hulle het Hom wakker gemaak. Hulle sê toe vir Hom: “Here, help ons! Ons sal verdrink!” Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Hoekom is julle geloof so min?” Jesus het opgestaan en Hy het kwaai gepraat met die wind en die see. Die see het stil en kalm geword. Die dissipels was baie verbaas en hulle het gesê: “Hy is nie 'n gewone mens nie, ook die wind en die see luister na Hom.” Jesus het gekom in die land van die Gadareners anderkant die See van Galilea. Twee mense het na Hom toe gekom. Hulle het duiwels in hulle gehad en hulle het tussen die grafte uitgekom. Hierdie mense was baie gevaarlik, niemand kon op daardie pad loop nie. Skielik het hulle vir Jesus begin skree: “Wat wil U met ons doen, Seun van God? Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te straf en seer te maak?” 'n Groot klomp varke het daar naby geloop en wei. Die duiwels het aangehou om vir Jesus te soebat en te vra: “As U ons uitjaag uit hierdie twee mense, stuur ons dan asseblief in die klomp varke in.”

MATTEUS 8:16-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met 'n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra. EN toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant. En 'n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. En 'n ander een van sy dissipels het vir Hom gesê: Here, laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe. Maar Jesus sê vir hom: Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe. EN toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. En daar het 'n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap. Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan! En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom. En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir 'n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is? EN toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie. En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? En ver van hulle af het 'n groot trop varke gewei. En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar.

MATTEUS 8:16-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vertrek. 'n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: “Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.” Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.” Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?” Toe Jesus aan die oorkant in die land van die Gadareners kom, het twee mense wat in die mag van bose geeste was, Hom van die grafte af tegemoet gekom. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie. Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke geloop. Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.”

MATTEUS 8:16-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.” Toe Jesus die skare rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant vertrek. 'n Sekere skrifkenner het toe nader gekom en vir Hom gesê: “Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan.” Maar Jesus antwoord hom: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie. ” Iemand anders, een van sy dissipels, het vir Hom gesê: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. ” Maar Jesus sê vir hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik bars daar 'n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword. Die mense was verwonderd en het gesê: “Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Toe Hy aan die oorkant kom, in die gebied van die Gadareners, het twee manne, deur demone besete, uit die rotsgrafte gekom en Hom tegemoet gegaan. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand met daardie pad langs verby kon reis nie. Skielik het hulle begin skreeu: “Los ons uit, •Seun van God! Het U voortydig hierheen gekom om ons te pynig?” 'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke gewei. Die demone het Hom gesmeek: “As U ons uitdryf, stuur ons in die trop varke in!”

MATTEUS 8:16-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met sy woord uitgedryf en almal wat siek was, genees. Sodat vervul sou word wat gespreek is deur die profeet Jesaja, wat gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons krankhede gedra. En toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om na die ander kant toe te gaan. En 'n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al gaan. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate, en die voëls van die hemel neste; maar die Seun van die mens het geen plek om sy hoof neer te lê nie. En 'n ander van sy dissipels sê vir Hom: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. Maar Jesus sê vir hom: Volg My; en laat die dooies hulle dooies begrawe. En toe Hy in 'n skip geklim het, het sy dissipels Hom gevolg. En kyk, daar het 'n groot storm in die see gekom, sodat die skip met die golwe bedek was, maar hy het geslaap. En sy dissipels het na Hom gekom en Hom wakker gemaak en gesê: Here, red ons, ons vergaan. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bevrees, kleingelowiges? Toe het hy opgestaan en die winde en die see bestraf; en daar was 'n groot kalmte. Maar die manne was verwonderd en het gesê: Wat is hierdie mens, dat selfs die winde en die see hom gehoorsaam is! En toe Hy aan die oorkant in die land van die Gergesene gekom het, het twee van die duiwels besete Hom tegemoet gekom wat uit die grafte uitgekom het, baie wreed, sodat niemand op daardie pad sou verbygaan nie. En kyk, hulle het uitgeroep en gesê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? kom jy hierheen om ons voor die tyd te pynig? En daar was 'n lang entjie van hulle af 'n trop baie varke wat gewei het. Toe het die duiwels Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke in te gaan.

MATTEUS 8:16-31 Die Boodskap (DB)

Die mense wou Jesus nie met rus laat nie. Tot diep in daardie nag was Hy nog besig. Veral mense op wie bose geeste ’n houvas gekry het, het na Hom toe gekom. Jesus het dié mense gehelp deur bloot met ’n bevel daardie geeste uit hulle te jaag. Daar was ook baie ander mense wat met allerhande siektes gesukkel het. Een vir een het Jesus hulle gesond gemaak. Terwyl hulle Jesus so dophou, het hulle begin verstaan wat die groot profeet Jesaja bedoel het: “Waar ons so swak was dat ons nie verder kon nie, het Hy ons weer sterk gemaak. Toe ons platgeslaan was deur siektes, het Hy ons gesond gemaak.” Jesus het gesien dat Petrus se huis nou te klein word vir al die mense. Dit het Hom laat besluit om van daar af na ’n plekkie aan die oorkant van die meer te gaan. Toe hulle begin regmaak om te gaan staan ’n geleerde Israeliet nader, ’n kenner van die Joodse Bybel. Hy sê vir Jesus: “Ek sien U is ’n geleerde man. Mag ek asseblief saam met U gaan? Ek wil so graag meer van U leer. Dit maak nie saak waarheen U gaan nie, ek sal daar wees!” “Wel,” sê Jesus, “jy moet goed nadink. Soos jy weet, moet selfs diere ’n blyplek hê. Kyk, voëls bly in neste en jakkalse in gate. Maar dit moet jy besef: daar gaan tye kom dat dit so swaar met My sal gaan dat Ek nie eens ’n plek sal hê om te slaap nie. Sê My, sal jy dan nog by My wil wees?” Een van Jesus se getroue volgelinge sê toe: “Here, verskoon my ’n rukkie, asseblief. Ek moet eers gou teruggaan huis toe om te gaan help met die reëlings vir my pa se begrafnis. U kan maar solank vooruitgaan. Ek kom later.” Jesus het nie doekies omgedraai nie: “Jou pad na die ware lewe toe loop agter My aan. Loop daardie pad voluit! Moenie allerhande afdraaipaadjies soek nie. Daar is genoeg ander mense wat nie hierdie pad wil loop nie. Laat hulle hulle ophou met dinge soos begrafnisse.” Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe. Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk. Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!” “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil. Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?” Kort daarna het Jesus-hulle in die gebied van die Gadareners aangekom. Hulle het skaars daar geland of twee woeste, wreedaardige mans het uit die begraafplaas na hulle toe aangehardloop gekom. Hierdie mans was totaal in die mag van demone. Hulle was baie gevaarlik. Om die waarheid te sê, die mense was so bang vir daardie mans dat hulle glad nie eens meer met dié pad langs wou loop nie. Die twee mans storm toe op Jesus af en gil hard: “Haai, Seun van God, wat kom soek U hier? U het niks hier te doen nie. Of is U dalk hier om ons voor die tyd te kom bestraf?” Die demone het egter geweet wat op hulle wag. Hulle sien toe daar ver teen die skuinste ’n groot trop varke loop en smeek Jesus: “Asseblief, ons vra mooi: as U ons uit hierdie mans verwilder, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.”

MATTEUS 8:16-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Teen die aand het hulle baie mense, deur bose geeste besete, na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: “Hy het ons kwale weggevat, en ons siektes het Hy weggedra.” Toe Jesus die baie mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant van die see moes vertrek. ’n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom: “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!” Maar Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop kan neerlê nie.” Een van sy ander dissipels het vir Hom gesê: “Here, U sal my moet toelaat om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, jy moet My nóú volg. Laat die geestelik dooies maar na mekaar omsien.” Jesus het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik het daar ’n hewige storm oor die see opgekom sodat reuse golwe oor die boot gebreek het. Maar Jesus het gelê en slaap. Hulle gaan maak Hom toe wakker en sê: “Here, red ons! Dis klaar met ons!” Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?” Daarna het Hy opgestaan, die winde en die see streng aangespreek en daar het ’n groot kalmte gekom. Die dissipels was oorweldig. “Watter soort mens is Hy dat selfs die winde en die see na Hom luister?” Toe Jesus oorkant die see in die land van die Gadareners aankom, kom twee mense, deur bose geeste besete, uit die begraafplaas Hom tegemoet. Hulle was sulke woestaards dat niemand dit kon waag om daarlangs verby te gaan nie. Meteens begin hulle hard uitskreeu: “Los ons uit, Seun van God! Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te pynig?” ’n Hele ent daarvandaan was daar ’n groot trop varke aan die wei. Die bose geeste het Jesus aangehou smeek: “As U ons wil uitdryf, stuur ons dan in die trop varke in.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid