MATTEUS 6:7-21
MATTEUS 6:7-21 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer julle bid, moenie 'n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra. Julle moet só bid: “Ons Vader wat in die hemel is, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Ons bid dat al die mense op die aarde sal doen wat U wil hê hulle moet doen, soos die engele in die hemel dit doen. Gee vir ons vandag die kos wat ons vandag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het teen U, soos ons ook ander mense vergewe wat verkeerd gedoen het teen ons. En help ons dat niks sal gebeur wat ons sal laat sonde doen nie. Maar beskerm ons teen die duiwel. “Wanneer ander mense verkeerd doen teen julle, dan moet julle hulle vergewe. Dan sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, dan sal julle Vader in die hemel julle ook nie vergewe wanneer julle verkeerd gedoen het nie.” “Wanneer julle vas omdat julle God wil eer, dan moet julle nie doen wat die skynheilige mense doen nie. Hulle wys hulle kry swaar, hulle was nie hulle gesigte nie en kam nie hulle hare nie. Hulle doen dit sodat die mense moet sien hulle is besig om te vas. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie goed wees vir hulle omdat hulle dit doen nie. Maar jy, wanneer jy vas, moet jy jou gesig was en jou hare kam sodat die mense nie kan sien dat jy vas nie. Net jou Vader moet sien dat jy vas. Die mense kan nie jou Vader sien nie. En jou Vader in die hemel wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou.” “Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.”
MATTEUS 6:7-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie. En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
MATTEUS 6:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
MATTEUS 6:7-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra. “Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die •hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen. “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.” “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
MATTEUS 6:7-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar wanneer julle bid, gebruik nie ydele herhalings soos die heidene doen nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word vanweë hulle baie woorde. Moet julle dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet watter dinge julle nodig het voordat julle Hom vra. So bid julle dan: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie. En as julle vas, moet julle nie soos die geveinsdes van 'n droewige voorkoms wees nie; Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou aangesig; dat jy nie aan die mense verskyn om te vas nie, maar aan jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie. Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek of steel nie; Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
MATTEUS 6:7-21 Die Boodskap (DB)
“Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister. Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan. “Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid: Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê. Gee ons vandag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen. “As julle ander mense vergewe wanneer hulle iets verkeerds teen julle gedoen het, sal julle hemelse Vader ook julle sondes vergeef. Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.” “Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg. Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie. Slegs julle hemelse Vader hoef dit te weet. Hy sal wel sorg dat julle julle hemelse beloning kry.” “Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie. “Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.
MATTEUS 6:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel. Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het. En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het. Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose. “As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges ’n martelaarshouding aanneem nie. Hulle loop met lang gesigte rond sodat die mense duidelik kan sien dat hulle vas. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. Maar wanneer jy vas, versorg jou hare, was jou gesig. Dan sal niemand agterkom dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat alle geheime ken. En jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.” “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.