MATTEUS 6:22-24
MATTEUS 6:22-24 Bybel vir almal (ABA)
“Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. As daar nie lig in jou is nie, dan is dit baie donker rondom jou.” “'n Mens kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks vir die ander persoon wil doen nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en baie ander dinge is so belangrik soos Hy nie.
MATTEUS 6:22-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!
MATTEUS 6:22-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
MATTEUS 6:22-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
MATTEUS 6:22-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die lig van die liggaam is die oog; as jou oog dus enkel is, sal jou hele liggaam vol lig wees. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig wat in jou is duisternis is, hoe groot is daardie duisternis! Niemand kan twee here dien nie, want óf hy sal die een haat en die ander liefhê; anders sal hy die een vashou en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.
MATTEUS 6:22-24 Die Boodskap (DB)
“As jy hemelse skatte wil opgaar, sorg dan dat jy jou oë deur die Here laat instel sodat jy op die regte manier daarmee kan kyk. Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou. “Niemand kan vir twee base werk nie. Jy sal lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eens daaraan dink om God en die geldgod saam te probeer dien nie. Jy moet kies in wie se diens jy wil staan.”
MATTEUS 6:22-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word. Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie! “Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ’n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. Om God én die geldgod saam te dien, is onmoontlik.