MATTEUS 6:1-34

MATTEUS 6:1-34 Bybel vir almal (ABA)

“Julle moet seker maak: Wanneer julle die Here dien, dan moet julle dit nie doen sodat al die mense kan sien wat julle doen nie. As julle dit doen en julle wil hê al die mense moet dit sien, dan sal julle Vader in die hemel nie daaroor goed wees vir julle nie.” “Wanneer jy arm mense help, dan moet jy dit nie vir almal in die sinagoges en op die strate vertel nie. Die skynheilige mense doen dit, sodat al die mense moet sê hulle is goed. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie daaroor goed wees vir hulle nie. Wanneer jy arm mense help, dan moet jy dit so doen dat ander mense nie daarvan weet nie. Ander mense moenie sien dat jy arm mense help nie. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, Hy sal goed wees vir jou.” “Wanneer julle bid, dan moet julle nie soos die skynheilige mense bid nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te bid. Hulle doen dit sodat die mense hulle kan sien. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie vir hulle daaroor goed wees nie. Maar wanneer jy bid, moet jy na jou kamer gaan. Maak dan die deur toe sodat niemand jou kan sien nie, en bid tot jou Vader. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou. Wanneer julle bid, moenie 'n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra. Julle moet só bid: “Ons Vader wat in die hemel is, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Ons bid dat al die mense op die aarde sal doen wat U wil hê hulle moet doen, soos die engele in die hemel dit doen. Gee vir ons vandag die kos wat ons vandag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het teen U, soos ons ook ander mense vergewe wat verkeerd gedoen het teen ons. En help ons dat niks sal gebeur wat ons sal laat sonde doen nie. Maar beskerm ons teen die duiwel. “Wanneer ander mense verkeerd doen teen julle, dan moet julle hulle vergewe. Dan sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, dan sal julle Vader in die hemel julle ook nie vergewe wanneer julle verkeerd gedoen het nie.” “Wanneer julle vas omdat julle God wil eer, dan moet julle nie doen wat die skynheilige mense doen nie. Hulle wys hulle kry swaar, hulle was nie hulle gesigte nie en kam nie hulle hare nie. Hulle doen dit sodat die mense moet sien hulle is besig om te vas. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie goed wees vir hulle omdat hulle dit doen nie. Maar jy, wanneer jy vas, moet jy jou gesig was en jou hare kam sodat die mense nie kan sien dat jy vas nie. Net jou Vader moet sien dat jy vas. Die mense kan nie jou Vader sien nie. En jou Vader in die hemel wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou.” “Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.” “Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. As daar nie lig in jou is nie, dan is dit baie donker rondom jou.” “'n Mens kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks vir die ander persoon wil doen nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en baie ander dinge is so belangrik soos Hy nie. “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, oor wat julle sal eet en drink nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam nie, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die voëls. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, hulle pluk nie vrugte nie en hulle maak nie kos bymekaar in 'n stoorkamer nie. Maar julle Vader in die hemel gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. En hoekom is julle bekommerd oor die klere wat julle moet aantrek? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand die plante in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter sorg vir julle as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. “Daarom moet julle nie bekommerd wees nie. Julle moenie vra: ‘Wat moet ons eet?’ of ‘Wat moet ons drink?’ of ‘Wat moet ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge is belangrik vir die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader in die hemel weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God julle Koning is. Julle moet gehoorsaam wees aan Hom en doen wat Hy wil hê. Dan sal Hy al hierdie ander dinge ook vir julle gee. En julle moenie vandag bekommerd wees oor wat môre sal gebeur nie. Môre sal sy eie probleme hê waaroor julle bekommerd sal wees. So sal elke dag sy eie probleme hê.”

MATTEUS 6:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAS op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde. En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie. En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

MATTEUS 6:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie. “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

MATTEUS 6:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Wees op julle hoede dat julle nie julle •geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie, anders is daar vir julle geen beloning by julle Vader in die •hemele nie. “Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die •sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” “En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra. “Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die •hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen. “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.” “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. “Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges? “Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

MATTEUS 6:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Pas op dat julle nie julle aalmoese voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen beloning van julle Vader wat in die hemele is nie. Daarom, wanneer jy jou aalmoese bewys, moet jy nie 'n basuin voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, sodat hulle eer van die mense kan hê nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar as jy aalmoese gee, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Sodat jou aalmoese in die verborgene kan wees; en jou Vader wat self in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie, want hulle bid graag staande in die sinagoges en op die hoeke van die strate, sodat hulle deur die mense gesien kan word. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, en sluit jou deur, bid tot jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Maar wanneer julle bid, gebruik nie ydele herhalings soos die heidene doen nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word vanweë hulle baie woorde. Moet julle dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet watter dinge julle nodig het voordat julle Hom vra. So bid julle dan: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie. En as julle vas, moet julle nie soos die geveinsdes van 'n droewige voorkoms wees nie; Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou aangesig; dat jy nie aan die mense verskyn om te vas nie, maar aan jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie. Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek of steel nie; Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Die lig van die liggaam is die oog; as jou oog dus enkel is, sal jou hele liggaam vol lig wees. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig wat in jou is duisternis is, hoe groot is daardie duisternis! Niemand kan twee here dien nie, want óf hy sal die een haat en die ander liefhê; anders sal hy die een vashou en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie. Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe, wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; ook nie vir julle liggaam wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie meer as vleis en die liggaam as klere nie? Kyk die voëls van die hemel, want hulle saai nie en hulle maai nie en maak nie bymekaar in skure nie; tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie veel beter as hulle nie? Wie van julle kan deur nadenke een el by sy lengte voeg? En waarom dink julle aan klere? Kyk na die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin nie; En tog sê Ek vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. Daarom, as God die gras van die veld, wat vandag is en môre in die oond gegooi word, so beklee, sal Hy julle nie veel meer beklee nie, kleingelowiges? Daarom moet julle nie dink nie en sê: Wat sal ons eet? of: Wat sal ons drink? of: Waarmee sal ons aangetrek word? (Want na al hierdie dinge soek die heidene:) want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Dink dan nie oor die môre nie, want die môre sal oor sy eie dinge nadink. Die boosheid daarvan is tot die dag toe genoeg.

MATTEUS 6:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Wees versigtig! Moenie julle praktiese godsdiens in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop. “Wanneer jy iemand in nood help, moenie ’n groot okkasie daarvan maak nie. Dis wat die skynheiliges in die sinagoges en op die strate doen om deur die mense opgehemel te word. Ek verseker julle, dis al beloning wat hulle ooit sal kry. Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.” “En nou wat die gebed betref: Moenie soos die skynheiliges wees wat daarvan hou om in die sinagoges en op die straathoeke te bid sodat die mense hulle kan sien nie. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel. Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het. En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het. Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose. “As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges ’n martelaarshouding aanneem nie. Hulle loop met lang gesigte rond sodat die mense duidelik kan sien dat hulle vas. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. Maar wanneer jy vas, versorg jou hare, was jou gesig. Dan sal niemand agterkom dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat alle geheime ken. En jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.” “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. “Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word. Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie! “Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ’n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. Om God én die geldgod saam te dien, is onmoontlik. “Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie? “Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? “Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? “En wat klere betref – wat bekommer julle julle daaroor? Leer hierdie les van die veldlelies wat so pragtig in die blom staan. Hulle sloof hulle nie af om vir hulleself klere te maak nie. En tog sê Ek vir julle, selfs Salomo in al sy glorie was nie so pragtig aangetrek soos een van hulle nie. “As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein? “Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg. “Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.”