MATTEUS 3:10-12
MATTEUS 3:10-12 Bybel vir almal (ABA)
God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. Ek doop julle met water om te wys julle wil lewe soos God wil hê. Maar later sal daar Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale vir Hom te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Hy sal die mense oordeel. Dit sal wees soos wanneer iemand 'n vurk neem en die koring en die kaf op sy dorsvloer van mekaar skei. Hy maak die koring bymekaar en bêre dit in sy stoorkamer, en hy verbrand die kaf. Die oordeel van God sal wees soos 'n vuur wat nie ophou brand nie.”
MATTEUS 3:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.
MATTEUS 3:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”
MATTEUS 3:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die byl lê reeds teen die wortel van die boom. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Sy hooivurk is in sy hand. Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak en sy koring in die skuur versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”
MATTEUS 3:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nou word ook die byl teen die wortel van die bome gelê; daarom word elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, afgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om te dra nie; hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Wie se waaier in sy hand is, en hy sal sy vloer heeltemal suiwer en sy koring in die skuur bymekaarmaak; maar hy sal die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.
MATTEUS 3:10-12 Die Boodskap (DB)
“Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die vuur van die hel gooi.” Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak. “Hierdie belangrike Man wat na julle toe op pad is, sal al die koring van die kaf kom skei. Hy gaan ’n duidelike streep trek tussen mense wat na God luister, en mense wat nie na Hom luister nie. Vir almal wat doen wat Hy sê, sal Hy ’n plek gee in God se nuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God se voorskrifte steur nie, sal Hy in die hel gooi. Daar gaan hulle gepynig word in ’n vuur wat nooit ophou brand nie.”
MATTEUS 3:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. “Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Hy sal sy koring in sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie.”