MATTEUS 3:1-17

MATTEUS 3:1-17 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het Johannes die Doper na die woestyn van Judea gekom en daar gepreek. Hy het gesê: “Julle moet verander en lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.” Die profeet Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het: “ Iemand skree in die woestyn en hy sê: Julle moet die pad gereedmaak vir die Here, julle moet sy paaie reguit maak.” Johannes se klere was van kameelhare gemaak en hy het 'n belt van leer om sy heupe gedra. Hy het sprinkane geëet en heuning wat hy in die woestyn gekry het. Toe het die mense van Jerusalem en die hele provinsie Judea en van plekke naby die Jordaan-rivier na hom toe gegaan. Hulle het gesê hulle is jammer oor hulle sondes, en Johannes het hulle in die Jordaan-rivier gedoop. Johannes het gesien baie van die Fariseërs en Sadduseërs kom sodat hy hulle moet doop. Hy sê toe vir hulle: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. Nee, julle moet wys julle het verander en dat julle nou lewe soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en julle dink dáárom sal God julle nie straf nie. Maar Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. Ek doop julle met water om te wys julle wil lewe soos God wil hê. Maar later sal daar Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale vir Hom te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Hy sal die mense oordeel. Dit sal wees soos wanneer iemand 'n vurk neem en die koring en die kaf op sy dorsvloer van mekaar skei. Hy maak die koring bymekaar en bêre dit in sy stoorkamer, en hy verbrand die kaf. Die oordeel van God sal wees soos 'n vuur wat nie ophou brand nie.” Jesus het van die provinsie Galilea gekom en Hy het na die Jordaan-rivier gegaan. Hy het na Johannes toe gegaan en gesê Johannes moet Hom doop. Johannes wou dit nie doen nie. Hy het gesê: “Dit is nie reg dat ek vir Ú doop nie, U moet vir mý doop. Hoekom kom U na my toe?” Maar Jesus sê vir hom: “Doen wat Ek vra en doop My. Ons moet dit doen. Ons moet alles doen wat God wil hê ons moet doen.” Toe het Johannes gedoen wat Jesus gevra het, hy het Hom gedoop. Nadat Johannes vir Jesus gedoop het, het Jesus dadelik opgestaan uit die water. Toe gaan die hemel oop, en Jesus sien die Gees van God kom af na Hom toe soos 'n duif uit die lug afkom. Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly.”

MATTEUS 3:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit! En hy, Johannes, het 'n kleed gedra van kameelhare en 'n leergord om sy heupe, en sy voedsel was sprinkane en wilde heuning. En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes. Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas. En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand. TOE het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.

MATTEUS 3:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.” Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop. Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.” In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem. Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

MATTEUS 3:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie tyd het Johannes die Doper in die openbaar begin optree en in die woestyn van Judea verkondig: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.” Hy was immers die een van wie die profeet Jesaja gepraat het toe hy gesê het: “'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit!’ ” Hierdie Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe, en sy kos was sprinkane en wilde heuning. In dié tyd het daar inwoners van Jerusalem, die hele Judea en die hele Jordaanomgewing na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. Maar toe hy sien dat baie van die •Fariseërs en •Sadduseërs kom na waar hy gedoop het, het hy vir hulle gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. En moenie eers oorweeg om by julleself te sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die boom. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Sy hooivurk is in sy hand. Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak en sy koring in die skuur versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.” Toe het Jesus van Galilea af by die Jordaan aangekom. Hy het na Johannes gegaan om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom probeer teengaan met die woorde: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” Jesus het hom geantwoord: “Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier alle •geregtigheid vervul.” Johannes het toe ingestem. Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het 'n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

MATTEUS 3:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In daardie dae het Johannes die Doper gekom en in die woestyn van Judéa gepreek, en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Want dit is hy van wie die profeet Jesaja gespreek het toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie gelyk. En dieselfde Johannes het sy kleed van kameelhare gehad en 'n leergordel om sy lendene; en sy spys was sprinkane en wilde heuning. Toe het Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan na hom uitgegaan, En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop en hulle sondes bely. Maar toe Hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê Hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle gewaarsku om te vlug vir die komende toorn? Dra dan vrugte wat geskik is vir bekering: En moenie dink om by julleself te sê: Ons het Abraham vir ons vader nie, want Ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. En nou word ook die byl teen die wortel van die bome gelê; daarom word elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, afgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om te dra nie; hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Wie se waaier in sy hand is, en hy sal sy vloer heeltemal suiwer en sy koring in die skuur bymekaarmaak; maar hy sal die kaf met onuitbluslike vuur verbrand. Toe kom Jesus van Galilea na die Jordaan na Johannes om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het hom verbied en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? En Jesus antwoord en sê vir hom: Laat dit nou so wees, want so betaam dit ons om alle geregtigheid te vervul. Toe het hy hom gely. En toe Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgegaan; en kyk, die hemele het vir Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom steek. En daar is 'n stem uit die hemel wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.

MATTEUS 3:1-17 Die Boodskap (DB)

In daardie tyd het Johannes die Doper ook op die toneel verskyn. Hy het in die woestyn van Judea gepreek. Johannes het vir die mense wat na hom kom luister het, gesê: “Julle lewe moet radikaal verander, want God se nuwe wêreld is op hande.” Die profeet Jesaja het ook al na Johannes verwys. Hy skryf oor hom: “Daar is ’n man in die woestyn wat hard uitroep. Hy sê: ‘Vat al die hindernisse uit die Here se pad uit. Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is!’” Johannes se klere was van kameelhare gemaak. Hy het dit met ’n leerbelt om sy lyf vasgemaak. Sy kos was sprinkane en heuning. Dié het hy in die veld gekry. Kort voor lank was Johannes die Doper groot nuus. Mense het van oraloor na hom toe gestroom. Van heinde en ver het hulle na hom toe gekom: uit Jerusalem, oral uit Judea en uit die omgewing van die Jordaanvallei. Almal van hulle wat in die openbaar erken het dat hulle nie doen wat God van hulle vra nie, is daar by die Jordaan deur hom gedoop. Op ’n dag het Johannes gesien dat ’n klomp Joodse godsdienstige leiers ook na hom toe kom om gedoop te word. Hy was baie omgekrap daaroor. “Julle skynheiliges! Julle seil soos ’n klomp slinkse slange hier na die doopwater toe. Weet julle nie dat God se oordeel baie naby is nie? Wie het vir julle gesê julle kan dit vryspring as ek ’n klomp water oor julle uitgooi? Kry eerder julle lewe in orde en doen wat God sê. Wys dat julle berou het oor al julle sondes. Moenie julleself bluf deur te sê Abraham is julle pa nie. Dit tel nie by God nie. Hy trek nie mense voor wat uit Abraham se nageslag kom nie. As sulke dinge vir God belangrik was, kon Hy mos die klippe wat hier rondlê in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die vuur van die hel gooi.” Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak. “Hierdie belangrike Man wat na julle toe op pad is, sal al die koring van die kaf kom skei. Hy gaan ’n duidelike streep trek tussen mense wat na God luister, en mense wat nie na Hom luister nie. Vir almal wat doen wat Hy sê, sal Hy ’n plek gee in God se nuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God se voorskrifte steur nie, sal Hy in die hel gooi. Daar gaan hulle gepynig word in ’n vuur wat nooit ophou brand nie.” In daardie tyd, terwyl Johannes besig was om te preek, het Jesus van Galilea af na die Jordaan toe gekom. Hy wou ook hê dat Johannes Hom moes doop. Maar Johannes wou dit nie doen nie. “Nooit nie! Ek behoort eintlik deur U gedoop te word!” het Johannes geskok gesê. “U is mos nie ’n sondaar soos al die ander mense wat ek doop nie. Hoekom kom U na my toe dat ek U moet doop?” Jesus wou nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. “Doop My nou dadelik!” het Hy Johannes beveel. “Want dit is wat God wil hê. So voldoen Ek en jy aan God se groot plan om die wêreld te red.” Toe Johannes dit hoor, het hy dadelik ingestem. Toe Jesus ná sy doop uit die water uitkom, het die hemel skielik oopgegaan. Johannes het gesien hoe die Gees van God soos ’n duif uit die hemel afkom en op Hom neerdaal. Toe praat ’n stem uit die hemel. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Hy verskaf My baie vreugde!”

MATTEUS 3:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag verskyn Johannes die Doper in die woestyn van Judea en kondig God se boodskap aan deur te sê: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!” Jesaja het juis van Johannes gepraat toe hy gesê het: “Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed! Maak vir Hom ’n hoofweg!’” Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra, met ’n leerbelt om sy middel. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Kort voor lank begin daar toe mense uit Jerusalem en uit die hele Judea en Jordaan-omgewing na hom toe stroom. En nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop. Toe Johannes besef hoeveel Fariseërs en Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, het hy hulle soos volg berispe: “Julle broeisel slange! Wie het julle wysgemaak dat julle God se dreigende oordeel kan vryspring? Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. En moet tog nie julleself mislei nie met die gedagte: ‘Ons is veilig. Ons is mos die nageslag van Abraham.’ Weet verseker, God kan selfs die klippe wat hier rondlê in kinders van Abraham verander. “Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi. “Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Hy sal sy koring in sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie.” Op ’n dag het Jesus van Galilea af by die Jordaanrivier aangekom om deur Johannes gedoop te word. Maar Johannes wou Hom keer. “Ú behoort mý tog veel eerder te doop,” het hy gesê. “Dit is ongehoord dat U nou na my toe kom!” Maar Jesus het hom geantwoord: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam.” Daarop het Johannes ingestem en Hom gedoop. Ná Jesus se doop het Hy dadelik uit die water geklim. Net daar gaan die hemel toe vir Hom oop, en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal. Daar kom toe ’n stem uit die hemel wat sê: “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart.”