MATTEUS 28:5-7 - Compare All Versions
MATTEUS 28:5-7 ABA (Bybel vir almal)
Die engel sê toe vir die vroue: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek vir Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy lewe weer. Hy het gesê dit sal gebeur. Kom kyk, hier is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels Hy lewe weer. Dit is wat sal gebeur: Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is wat ek vir julle moes kom sê.”
MATTEUS 28:5-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
MATTEUS 28:5-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”
MATTEUS 28:5-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ”
MATTEUS 28:5-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet dat julle Jesus soek wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het. En gaan gou en sê vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgestaan het; en kyk, Hy gaan voor julle uit na Galiléa; daar sal julle Hom sien; kyk, Ek het dit vir julle gesê.
MATTEUS 28:5-7 DB (Die Boodskap)
Die engel praat toe met die vroue: “Moenie vir my bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus, die Een wat hulle gekruisig het. Hy is nie meer hier nie. Hy het mos self gesê Hy gaan opgewek word. Presies dit het gebeur! Maar staan nader; kom kyk self na die plek waar Hy gelê het. As julle klaar gekyk het, maak so gou as wat julle kan en gaan vertel vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgewek is. Sê vir hulle Hy is op pad Galilea toe. Julle almal moet Hom daar gaan kry. Dit is my boodskap aan julle.”
MATTEUS 28:5-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê. En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”