MATTEUS 28:2-7
MATTEUS 28:2-7 Bybel vir almal (ABA)
Skielik was daar 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het afgekom uit die hemel. Hy het na die graf gegaan, die klip weggerol en op die klip gaan sit. Hy het geblink soos weerlig en sy klere was so wit soos sneeu. Die soldate wat die graf opgepas het, het groot geskrik. Hulle het gebewe en hulle het geword soos mense wat dood is. Die engel sê toe vir die vroue: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek vir Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy lewe weer. Hy het gesê dit sal gebeur. Kom kyk, hier is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels Hy lewe weer. Dit is wat sal gebeur: Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is wat ek vir julle moes kom sê.”
MATTEUS 28:2-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
MATTEUS 28:2-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”
MATTEUS 28:2-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Skielik was daar 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal, nader gegaan, die steen weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu. Uit vrees vir hom het dié wat die graf bewaak, gebewe en soos dooies geword. Toe antwoord die engel die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ”
MATTEUS 28:2-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, daar was 'n groot aardbewing, want die engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die klip van die deur af weggerol en daarop gaan sit. Sy aangesig was soos weerlig, en sy klere wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagte geskud en soos dooies geword. En die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet dat julle Jesus soek wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het. En gaan gou en sê vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgestaan het; en kyk, Hy gaan voor julle uit na Galiléa; daar sal julle Hom sien; kyk, Ek het dit vir julle gesê.
MATTEUS 28:2-7 Die Boodskap (DB)
Hulle was net by die graf toe die aarde skielik begin bewe. Verskrik kyk hulle op en sien ’n engel van die Here uit die hemel na hulle toe kom. Hy rol toe die groot klip voor die graf weg en gaan sit daarop. Toe die wagte hom sien, het hulle hulle byna doodgeskrik. Soos iemand wat flou word, slaan hulle neer, veral toe hulle die engel se gesig sien. Dit het gelyk of daar weerligstrale uitkom, so het dit gestraal. Sy klere was skitterend blink. Die engel praat toe met die vroue: “Moenie vir my bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus, die Een wat hulle gekruisig het. Hy is nie meer hier nie. Hy het mos self gesê Hy gaan opgewek word. Presies dit het gebeur! Maar staan nader; kom kyk self na die plek waar Hy gelê het. As julle klaar gekyk het, maak so gou as wat julle kan en gaan vertel vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgewek is. Sê vir hulle Hy is op pad Galilea toe. Julle almal moet Hom daar gaan kry. Dit is my boodskap aan julle.”
MATTEUS 28:2-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Skielik was daar ’n geweldige aardbewing omdat daar ’n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het. Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit. Die wagte het van angs begin bewe oor die engel en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan. Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê. En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”