MATTEUS 24:1-2
MATTEUS 24:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus uit die tempel kom en wegstap, het sy dissipels na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom die geboue van die tempel gewys. Maar Jesus het vir hulle gevra: “Sien julle al hierdie geboue? Ek sê vir julle, en dit is seker: Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.”
MATTEUS 24:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
MATTEUS 24:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”
MATTEUS 24:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.”
MATTEUS 24:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus het uitgegaan en van die tempel af weggegaan, en sy dissipels het na Hom gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle nie al hierdie dinge nie? Voorwaar Ek sê vir julle, hier sal nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie.
MATTEUS 24:1-2 Die Boodskap (DB)
Daarna is Jesus-hulle daar weg. Terwyl hulle so by die tempel verbystap, praat sy dissipels oor hoe mooi en massief die gebou is. Jesus sê toe: “Ja-nee, dit is darem ’n groot en pragtige gebou. Maar Ek het slegte nuus. Hierdie gebou gaan een van die dae tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie ’n baksteen wees wat op sy regte plek gelos gaan word nie.”
MATTEUS 24:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.”