MATTEUS 24:1-13
MATTEUS 24:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus uit die tempel kom en wegstap, het sy dissipels na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom die geboue van die tempel gewys. Maar Jesus het vir hulle gevra: “Sien julle al hierdie geboue? Ek sê vir julle, en dit is seker: Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.” Jesus het op die Olyf-berg gaan sit. Die dissipels het toe na Hom toe gekom, en hulle was alleen. Hulle het vir Hom gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur waarvan U gepraat het? Watter teken sal vir ons wys dat U sal kom en wanneer dit die einde van die wêreld sal wees?” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie, want baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ En hulle sal baie mense bedrieg. Julle sal hoor daar is oorlog, naby julle of ver van julle. Pasop, julle moenie skrik wanneer julle dit hoor nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is dan nog nie die einde van alles nie. Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land veg. Mense sal min kos hê om te eet. Daar sal ook aardbewings op baie plekke wees. Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry. Dan sal mense julle vir ander mense gee, en daardie mense sal julle verdruk en doodmaak. Al die volke sal julle haat omdat julle aan My behoort. Dan sal baie mense ophou om in My te glo. Hulle sal mekaar verraai en hulle sal mekaar vir die vyand gee. Hulle sal mekaar haat. Daar sal baie vals profete kom en hulle sal vir baie mense verkeerd leer. Meer en meer mense sal nie doen wat God se wette sê nie, en daarom sal die liefde van die meeste mense min word. Maar as iemand tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God hom red.
MATTEUS 24:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie. En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
MATTEUS 24:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.
MATTEUS 24:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.” Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het die dissipels na Hom gekom en Hom eenkant gevra. “Sê vir ons,” het hulle gevra, “wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd? ” Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, ‘Ek is die Christus!’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.
MATTEUS 24:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus het uitgegaan en van die tempel af weggegaan, en sy dissipels het na Hom gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle nie al hierdie dinge nie? Voorwaar Ek sê vir julle, hier sal nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie. En terwyl Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees? en wat sal die teken wees van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus; en sal baie mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë; pas op dat julle nie verskrik word nie, want al hierdie dinge moet gebeur, maar die einde is nog nie. Want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Dit alles is die begin van smarte. Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie aanstoot neem en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mislei. En omdat die ongeregtigheid toeneem, sal die liefde van baie verkoel. Maar hy wat volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
MATTEUS 24:1-13 Die Boodskap (DB)
Daarna is Jesus-hulle daar weg. Terwyl hulle so by die tempel verbystap, praat sy dissipels oor hoe mooi en massief die gebou is. Jesus sê toe: “Ja-nee, dit is darem ’n groot en pragtige gebou. Maar Ek het slegte nuus. Hierdie gebou gaan een van die dae tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie ’n baksteen wees wat op sy regte plek gelos gaan word nie.” Terwyl hulle in die Olyfberg se rigting stap, vra Jesus se dissipels Hom: “Wat sal die teken wees dat ons kan weet: die einde is hier; maak gereed, die Messias is finaal op pad?” “Wees versigtig vir mense wat allerhande stories hieroor gaan versin,” sê Jesus toe vir hulle. “Sulke mense sal sommer skielik van êrens af kom en vir almal vertel dat dié een of daardie een die eintlike Messias is. En hulle sal dit regkry om baie mense te flous. Moenie sê Ek het julle nie gewaarsku nie. “Aan mense wat mekaar wil uitwis, sal daar ook nie ’n einde kom nie. Julle sal nie net die nuus kry van die mense wat oorlog maak nie. Dit sal so naby aan julle kom dat julle die mense self sal kan hoor veg. Moenie dan paniekerig word nie. Hierdie dinge gaan gebeur, maar dit is nog nie die teken dat die einde daar is nie. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser ontslae probeer raak. Soos vroeër sal daar ook tye wees dat kos baie skaars gaan raak en op baie plekke sal daar aardbewings wees. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie! “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie.
MATTEUS 24:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.” Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?” Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring. Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.