MATTEUS 21:8-11
MATTEUS 21:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Daar was baie mense. Hulle het van hulle klere oopgegooi op die pad. Ander mense het takke van bome afgekap en hulle het dit op die pad gegooi. Die groot klomp mense wat voor Jesus geloop het en die ander mense wat Hom gevolg het, het aangehou om hard te skree en te sê: “Prys die Seun van Dawid! Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen! Prys God in die hoogste hemel.” Toe Jesus in Jerusalem kom, het almal in die stad baie opgewonde geword en gevra: “Wie is hierdie man?” En die mense het gesê: “Dit is die profeet Jesus van die stad Nasaret in die provinsie Galilea.”
MATTEUS 21:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man? En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa.
MATTEUS 21:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!” Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”
MATTEUS 21:8-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna vir die •Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste!” Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.”
MATTEUS 21:8-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En 'n baie groot menigte het hulle klere op die pad uitgesprei; ander het takke van die bome afgekap en dit in die pad gestrooi. En die skare wat voor en wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste. En toe Hy in Jerusalem ingekom het, het die hele stad in beroering gekom en gesê: Wie is Hy? En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet van Nasaret in Galilea.
MATTEUS 21:8-11 Die Boodskap (DB)
Die meeste van hulle het los stukke klere wat hulle by hulle gehad het mooi voor sy donkie oopgevou. Ander het weer boomtakkies op die pad voor Hom gegooi sodat Hy op die groen tapyt kon ry. Hulle het Hom soos ’n koning verwelkom en hard uitgeroep: “Hoera vir die Seun van Dawid! Prys Hom wat op gesag van die Here self kom. Laat die hemel van ons vrolike hoera’s weergalm!” So is Jesus met die hele groep mense Jerusalem in. Dit het nogal ’n opskudding in die stad veroorsaak. “Wat gaan aan? Wie is hy?” het die mense in Jerusalem probeer uitvind. “Dit is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea,” het mense in Jesus se groep uitgeroep.
MATTEUS 21:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die grootste deel van die skare het hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en dit oor die pad uitgesprei. Met Jesus in die middel van die optog het die skare uitgeroep: “Prys God vir die Seun van Dawid! Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam! Prys God in die hoogste hemel!” Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.”