MATTEUS 21:33-44 - Compare All Versions
MATTEUS 21:33-44 ABA (Bybel vir almal)
Jesus het gesê: “Luister na nog 'n gelykenis. Daar was 'n man wat 'n klomp wingerdstokke op sy grond geplant het. Hy het 'n muur rondom die wingerd gebou en 'n parskuip gereedgemaak. Hy het ook 'n hoë toring gebou waarop iemand kon staan om die wingerd op te pas. Daarna het hy die wingerd verhuur aan ander mense. Toe het hy weggegaan. Toe dit tyd word om die druiwe te pluk, het hy slawe na die mense toe gestuur om die druiwe te gaan haal wat hy moes kry. Die mense het sy slawe gegryp. Hulle het die een slaaf geslaan, hulle het een slaaf doodgeslaan en een slaaf doodgegooi met klippe. Daarna het die eienaar ander slawe gestuur, meer as die eerste klomp slawe. En die mense het dieselfde met hulle gedoen soos met die eerste groep. “Laaste het die eienaar sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink hulle sal sy seun respekteer. Toe die mense die eienaar se seun sien, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan vat ons alles vir onsself.’ Hulle het die seun toe gegryp, hom uit die wingerd uitgegooi en hom doodgemaak. Wat dink julle? Wat sal die eienaar van die wingerd met daardie mense doen wanneer hy kom?” Die priesterleiers en die familieleiers sê toe vir Jesus: “Hy sal daardie slegte mense swaar straf. Hy sal hulle doodmaak en hy sal die wingerd vir ander mense gee wat op die regte tyd vir hom die vrugte sal gee wat hy moet kry.” Toe sê Jesus vir hulle: “Het julle hierdie woorde in die Ou Testament gelees: “ Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. Dit is die Here se werk, en dit is vir ons wonderlik? “Daarom sê Ek vir julle: Julle sal nie meer daar kan wees waar God Koning is nie, ander mense sal daar wees, mense wat vir Hom die vrugte sal gee wat Hy moet kry. Elkeen wat val oor die klip wat die bouers weggegooi het, sal sy bene breek en sterf. En as daardie klip op iemand val, dan sal die klip hom doodval.”
MATTEUS 21:33-44 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
LUISTER na 'n ander gelykenis: Daar was 'n sekere huisheer wat 'n wingerd geplant het; en hy het 'n heining daarom gesit en 'n parskuip daarin gegrawe en 'n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense — hy sal hulle 'n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee. Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.
MATTEUS 21:33-44 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Luister na nog 'n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was 'n grondbesitter wat 'n wingerd geplant en 'n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig. Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’ Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. “As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?” Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.” Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë. “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan 'n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer. “Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”
MATTEUS 21:33-44 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Luister na 'n ander gelykenis. Daar was 'n grondeienaar wat 'n wingerd aangeplant het. Hy het dit omhein, 'n parskuip daarin gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. Toe die oestyd aanbreek, het hy sy slawe na die landbouers gestuur om sy opbrengs te ontvang. Maar die landbouers het sy slawe gegryp, een afgeransel, 'n ander een doodgemaak, en nog een gestenig. Hy het weer ander slawe gestuur, nog meer as die eerstes, en hulle het dieselfde met hulle gedoen. Uiteindelik het hy sy seun na hulle gestuur, met die gedagte, ‘Hulle sal my seun met respek behandel.’ Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, en kry sy erfdeel in die hande.’ Hulle het hom toe gegryp, uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd kom, wat sal hy met daardie landbouers maak?” Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n aaklige dood laat sterf, en die wingerd aan ander landbouers verhuur wat aan hom die opbrengs op die regte tyd sal lewer.” Jesus sê vir hulle: “Het julle nog nooit in die Skrifte gelees nie: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’ “Daarom sê Ek vir julle: Die •koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer. Wie op hierdie klip val, sal verpletter word; en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.”
MATTEUS 21:33-44 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Hoor nog 'n gelykenis: Daar was 'n sekere huisbewoner wat 'n wingerd geplant en dit rondom omhein het en 'n parskuip daarin gegrawe en 'n toring gebou het en dit aan landbouers verhuur het en na 'n ver land gegaan het. En toe die tyd van die vrugte nader kom, het hy sy dienaars na die landbouers gestuur, dat hulle die vrugte daarvan kon ontvang. En die landbouers het sy dienaars geneem en die een geslaan en 'n ander gedood en 'n ander gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het net so met hulle gedoen. Maar laaste van almal het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, sê hulle onder mekaar: Dit is die erfgenaam; kom, laat ons hom doodmaak, en laat ons sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom gevang en hom uit die wingerd gegooi en hom gedood. Wanneer die heer van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle sê vir hom: Hy sal daardie goddelose manne ellendig vernietig en sy wingerd uitlewer aan ander landbouers wat vir hom die vrugte sal gee op hulle tyd. Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrif gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan 'n nasie gegee word wat die vrugte daarvan sal voortbring. En elkeen wat op hierdie klip val, sal gebreek word; maar elkeen waarop hy val, sal hom fyn maal.
MATTEUS 21:33-44 DB (Die Boodskap)
“Maar dit is nie al nie,” sê Jesus. “Luister ’n bietjie na hierdie verhaal: daar was ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het met alles wat nodig was. Rondom die wingerd het hy ’n stewige draad gespan. Hy het ook ’n plek reggemaak waar hy wyn kon maak. Die boer moes op ’n lang reis gaan en hy verhuur toe die wingerd aan ander boere. Hy het met hulle ooreengekom om vir hom van die druiwe as huur vir die grond te betaal. Toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar van sy werkers na die wingerd toe om sy druiwe te kry. In plaas van druiwe het hierdie werkers ’n onaangename verrassing gekry. Een is deur die boere aangerand. Gelukkig het hy nog bly leef, want ’n ander een is doodgemaak. Die boere het nog een onder die klippe gesteek, maar hy het darem weggekom. “Toe stuur die eienaar ’n hele klomp van sy werkers. Met hulle het dit egter nie beter gegaan nie. Hulle is net so sleg behandel. “Uiteindelik besluit hy om sy seun te stuur. Hy het geredeneer dat hulle niks aan sy seun sou doen nie. Vir sy seun behoort hulle mos net soveel respek te hê as vir hom. Hulle sal hom sekerlik goed behandel. Maar dit het nie so gebeur nie. Toe die boere die seun sien aankom, sit hulle koppe bymekaar. ‘Weet julle,’ sê hulle vir mekaar, ‘daardie seun gaan eendag hierdie grond erf. Dis nou ons kans. As ons hom nou doodmaak, sal ons mos later self die grond in die hande kan kry. Wanneer die eienaar eendag doodgaan, sal daar niemand meer oor wees om hier te boer nie.’ Voor die seun mooi weet wat aangaan, pak almal hom en sleep hom die veld in. Daar het hulle hom doodgemaak.” Jesus vra toe die klomp Joodse godsdienstiges: “Wat dink julle gaan die eienaar met die spul boere doen wanneer hy terugkom?” Die godsdienstiges was gou om te antwoord: “Ons dink die hel gaan om daardie boere losbrand. Daardie wingerd gaan nooit hulle s’n word nie, want die eienaar gaan hulle op die verskriklikste manier denkbaar straf. Hy sal dan die wingerd aan ander boere verhuur wat hulle huur op die regte tyd sal betaal.” Toe sê Jesus vir hulle: “Reg, maar moet Ek julle herinner aan wat daar in die Joodse Bybel staan? ‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien!’ “Nou wil Ek by julle kom. Julle gaan julle plekke by God verloor. Om die waarheid te sê, God gaan julle soos die eerste boere uit sy nuwe wêreld gooi. Soos die tweede groep boere die eerste boere se plek gekry het, so sal God julle plekke dan aan mense gee wat doen wat Hy van hulle vra. “Oppas! Wie op hierdie Klip val, gaan bitter seerkry. Maar op wie die Klip val, van hom gaan niks oorbly nie.”
MATTEUS 21:33-44 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Luister na nog ’n gelykenis. Die eienaar van ’n landgoed het ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou. Hy het ook ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy dit aan boere ver-huur en na die buiteland vertrek. Teen die tyd van die druiwe-oes stuur hy toe van sy slawe om sy deel van die oes te gaan haal. Die boere het sy slawe egter gegryp; hulle het die een geslaan, ’n ander een doodgemaak en ’n derde een met klippe doodgegooi. Vervolgens het die eienaar nog ’n groter groep slawe gestuur en die boere het dieselfde met hulle gedoen. “Einde ten laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink: ‘Hulle sal my seun tog sekerlik ontsien.’ Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood en dan vat ons sy erfenis!’ Toe gryp hulle hom, smyt hom uit die wingerd en vermoor hom. “Wat dink julle,” het Jesus gevra, “sal die eienaar van die wingerd met hierdie boere doen wanneer hy terugkom?” Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie skurke ’n verskriklike dood laat sterf en die wingerd aan ander mense verhuur wat gereeld sy billike deel van die oes aan hom sal gee.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle het tog seker al in die Skrif die volgende gelees: ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het, het die hoekklip van die gebou geword. Dit is die Here wat dit gedoen het en dit is vir ons wonderlik!’ “Daarom verseker Ek julle: God se koninkryk sal van julle af weggeneem word en aan ’n volk gegee word wie se lewe by koninkryksmense pas. Elkeen wat teen hierdie klip val, sal verpletter word en die een op wie hý val, sal vergruis word.”