MATTEUS 21:1-6
MATTEUS 21:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het naby Jerusalem gekom, by die dorpie Betfage op die Olyf-berg. Jesus stuur toe twee van sy dissipels en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorpie hier voor julle, julle sal 'n donkie en haar vulletjie kry. Julle moet die donkie losmaak en hulle na My toe bring. En wanneer iemand vir julle iets daaroor sê, dan moet julle sê: Die Here wil hulle gebruik, maar Hy sal hulle dadelik weer terugstuur.” Dit het alles gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het toe Hy die profeet gestuur het. Hy het gesê: “ Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe. Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op 'n jong donkie, 'n donkie-vul.” Die twee dissipels het toe gegaan en hulle het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het.
MATTEUS 21:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het, stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle 'n eselin vind wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op 'n esel, ja, 'n jong esel, die vul van 'n pakdier. En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het
MATTEUS 21:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.” Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier.” Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het.
MATTEUS 21:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik 'n vasgemaakte donkie vind met 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op 'n donkie, en op 'n jong donkie, die vul van 'n pakdier. ” Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het.
MATTEUS 21:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle naby Jerusalem kom en by Betfage, by die Olyfberg aankom, het Jesus twee dissipels gestuur, en vir hulle gesê: Gaan na die dorp teenoor julle, en julle sal dadelik 'n esel vind wat vasgebind is en 'n vul by haar; maak hulle los en bring hulle na My toe. En as iemand iets vir julle sê, moet julle sê: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal Hy hulle stuur. Dit het alles gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is deur te sê: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig en sit op 'n esel en 'n vul, die vul van 'n esel. En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het
MATTEUS 21:1-6 Die Boodskap (DB)
Hulle kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan asseblief gou na Betfage toe,” vra Jesus twee van sy volgelinge. “Nes julle in die dorp kom, sal julle ’n donkie met ’n vulletjie by haar kry. Bring hulle al twee vir My. As iemand vra wat julle doen, sê: Die Here het die twee donkies nodig. Sodra Hy klaar is, sal ons hulle terugbring.” Jesaja het mos lank terug reeds gesê: “Sê vir die mense van Jerusalem: Word wakker, julle Koning is op pad. Hy kom eenvoudig op ’n donkie aangery, Hy sit op die vul van ’n pakdier.” Die twee dissipels het gedoen wat Hy gevra het.
MATTEUS 21:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jerusalem begin naderkom, het Jesus en sy dissipels die dorpie Betfage, geleë teen die Olyfberg, bereik. Hy het twee dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle, en julle sal ’n donkie daar vasgemaak sien staan met ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle hier vir My. As iemand protesteer, sê dan: ‘Die Here het hulle nodig. Hy sal hulle nou-nou terugstuur.’” Dit het gebeur om die profesie te laat vervul: “Sê vir die volk van Israel: ‘Kyk, julle Koning kom na julle toe. Hy is saggeaard en Hy ry op ’n donkie, ja, op die vul van ’n pakdier.’” Die twee dissipels het toe gegaan en gemaak soos Jesus hulle beveel het.