MATTEUS 20:1-7
MATTEUS 20:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gesê: “In die hemel waar God Koning is, is dit soos 'n man wat een oggend vroeg uitgegaan het om werkers te huur om in sy wingerd te werk. Hy het met die werkers gepraat en hulle het saamgestem dat hy vir elke werker een silwer geldstuk sal gee. Toe het hy hulle na sy wingerd gestuur om te gaan werk. Omtrent nege-uur het hy weer na die mark gegaan en hy het daar nog ander werkers sien staan wat nie gewerk het nie. Hy sê toe vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk, dan sal ek vir julle gee wat julle moet kry.’ Hulle het toe gegaan. Die man het omtrent twaalfuur en omtrent drie-uur weer gegaan en hy het weer werkers gehuur. Toe dit omtrent vyfuur was, het hy weer gegaan en hy het ander werkers gesien wat nog daar staan. Toe sê hy vir hulle: ‘Hoekom staan julle die hele dag hier en julle werk nie?’ Hulle sê toe vir hom: ‘Omdat niemand vir ons werk gegee het nie.’ Toe sê hy vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk.’
MATTEUS 20:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT die koninkryk van die hemele is soos 'n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning op 'n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang.
MATTEUS 20:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. “Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.
MATTEUS 20:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n grondeienaar wat reeds vroegoggend uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die arbeiders op 'n denarius per dag ooreengekom het, het hy hulle na sy wingerd gestuur. Teen die derde uur het hy uitgegaan en ander op die markplein gesien wat ledig staan, en vir hulle gesê, ‘Gaan julle ook na die wingerd, en ek sal julle 'n billike loon betaal.’ En hulle het gegaan. Teen die sesde en die negende uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Teen die elfde uur het hy uitgegaan en ander gekry wat rondstaan, en vir hulle gesê, ‘Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?’ Hulle antwoord hom, ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê toe vir hulle, ‘Gaan julle ook na die wingerd.’
MATTEUS 20:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat 'n huisbewoner is wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders in sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning per dag, het hy hulle na sy wingerd gestuur. En hy het omtrent die derde uur uitgegaan en ander ledig op die mark sien staan, En het vir hulle gesê: Gaan julle ook na die wingerd, en alles wat reg is, sal Ek julle gee. En hulle het hul pad gegaan. Hy het weer omtrent die sesde en negende uur uitgegaan en net so gedoen. En omtrent die elfde uur het hy uitgegaan en ander ledig gevind en vir hulle gesê: Waarom staan julle hier die hele dag ledig? Hulle sê vir hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook na die wingerd; en alles wat reg is, dit sal julle ontvang.
MATTEUS 20:1-7 Die Boodskap (DB)
Daarna vertel Jesus vir hulle ’n verhaal: “Weet julle, in God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n boer wat vroeg een oggend by die markplein ’n paar werklose mense gaan huur het om daardie dag vir hom op sy plaas te kom werk. Hy kom toe met hulle ooreen om hulle 100 rand vir die dag se werk te betaal. “So teen nege-uur die oggend het die boer weer ’n draai daar by die markplein gemaak. Hy sien toe nog ’n paar werkloses daar rondstaan. Dadelik het hy hulle ook gehuur om op sy plaas te kom werk. ‘Ek betaal julle 100 rand vir die dag,’ het hy vir hulle gesê. “Teen twaalfuur en ook teen drie-uur was die boer weer by die markplein. Elke keer het hy nog werkers gehuur wat daar rondgestaan het. Laatmiddag, so teen vyfuur se kant, het hy vir oulaas by die mark ’n draai gemaak. Hy tref toe weer ’n klompie werkloses daar aan en vra vir hulle: ‘Vir wat staan julle die hele dag hier rond sonder om iets te doen?’ “‘Wel, niemand het vir ons werk nie,’ antwoord hulle. “‘Kom werk dan daar by my in my wingerd op die plaas,’ sê die boer toe.
MATTEUS 20:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur. Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk. “Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie. Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’ Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal. “Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’