MATTEUS 20:1-16
MATTEUS 20:1-16 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gesê: “In die hemel waar God Koning is, is dit soos 'n man wat een oggend vroeg uitgegaan het om werkers te huur om in sy wingerd te werk. Hy het met die werkers gepraat en hulle het saamgestem dat hy vir elke werker een silwer geldstuk sal gee. Toe het hy hulle na sy wingerd gestuur om te gaan werk. Omtrent nege-uur het hy weer na die mark gegaan en hy het daar nog ander werkers sien staan wat nie gewerk het nie. Hy sê toe vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk, dan sal ek vir julle gee wat julle moet kry.’ Hulle het toe gegaan. Die man het omtrent twaalfuur en omtrent drie-uur weer gegaan en hy het weer werkers gehuur. Toe dit omtrent vyfuur was, het hy weer gegaan en hy het ander werkers gesien wat nog daar staan. Toe sê hy vir hulle: ‘Hoekom staan julle die hele dag hier en julle werk nie?’ Hulle sê toe vir hom: ‘Omdat niemand vir ons werk gegee het nie.’ Toe sê hy vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk.’ En toe dit aand geword het, sê die man vir sy voorman: ‘Roep die werkers en betaal hulle wat hulle verdien het. Betaal eerste die werkers wat laaste begin werk het en dan die werkers wat eerste begin werk het.’ Die werkers wat omtrent vyfuur begin werk het, kom toe en hulle kry elkeen die geld wat 'n werker gewoonlik kry wanneer hy die hele dag gewerk het. Die werkers wat eerste begin werk het, kom toe en hulle dink dat hulle meer geld sal kry. Maar hulle het ook elkeen een silwer geldstuk gekry. Hulle neem toe die geld, maar hulle het by die man gaan kla en gesê: ‘Hierdie werkers wat laaste begin werk het, het net een uur gewerk, maar jy het vir hulle dieselfde gegee as vir ons, ons wat die hele dag hard in die son gewerk het.’ Die man sê toe vir een van hulle: ‘My vriend, ek doen niks verkeerd aan jou nie. Onthou jy, jy het met my saamgestem dat jy een silwer geldstuk sal kry. Jy moet jou geld neem en gaan. Ek het besluit ek gee vir die werker wat laaste begin werk het, dieselfde as vir jou. Ek kan doen met my geld wat ek wil, dit weet jy. Hoekom is jy jaloers omdat ek vir hulle goed is?’ Baie mense wat nou onbelangrik is, sal belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal onbelangrik wees.”
MATTEUS 20:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT die koninkryk van die hemele is soos 'n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning op 'n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang. En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen 'n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen 'n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir 'n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is? So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.
MATTEUS 20:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. “Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle. “Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’ “Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’ “Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ “So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
MATTEUS 20:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n grondeienaar wat reeds vroegoggend uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die arbeiders op 'n denarius per dag ooreengekom het, het hy hulle na sy wingerd gestuur. Teen die derde uur het hy uitgegaan en ander op die markplein gesien wat ledig staan, en vir hulle gesê, ‘Gaan julle ook na die wingerd, en ek sal julle 'n billike loon betaal.’ En hulle het gegaan. Teen die sesde en die negende uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Teen die elfde uur het hy uitgegaan en ander gekry wat rondstaan, en vir hulle gesê, ‘Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?’ Hulle antwoord hom, ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê toe vir hulle, ‘Gaan julle ook na die wingerd.’ Teen die aand sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman, ‘Roep die arbeiders en betaal hulle die loon; begin by die laastes, tot by die eerstes.’ Dié wat teen die elfde uur gehuur is, het gekom en elk 'n denarius gekry. Toe die eerstes kom, het hulle gedink dat hulle meer sal kry, maar ook hulle het elk 'n denarius gekry. Hulle het dit geneem, maar by die grondeienaar gaan mor, ‘Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle dieselfde behandel as ons, ons wat die dag se werklas en die hitte moes verduur.’ Maar hy het een van hulle geantwoord, ‘Vriend, ek doen jou nie 'n onreg aan nie. Het jy nie met my op 'n denarius ooreengekom nie? Neem wat joune is en gaan. Ek verkies om vir hierdie laaste een dieselfde te gee as vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? ’ So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
MATTEUS 20:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat 'n huisbewoner is wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders in sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning per dag, het hy hulle na sy wingerd gestuur. En hy het omtrent die derde uur uitgegaan en ander ledig op die mark sien staan, En het vir hulle gesê: Gaan julle ook na die wingerd, en alles wat reg is, sal Ek julle gee. En hulle het hul pad gegaan. Hy het weer omtrent die sesde en negende uur uitgegaan en net so gedoen. En omtrent die elfde uur het hy uitgegaan en ander ledig gevind en vir hulle gesê: Waarom staan julle hier die hele dag ledig? Hulle sê vir hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook na die wingerd; en alles wat reg is, dit sal julle ontvang. En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy rentmeester: Roep die arbeiders en gee hulle hul loon, begin van die laaste tot die eerste. En toe hulle aankom wat gehuur was omtrent die elfde uur, het hulle elkeen 'n penning ontvang. Maar toe die eerstes gekom het, het hulle gedink dat hulle meer moes ontvang het; en hulle het eweneens elkeen 'n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang het, het hulle teen die eienaar van die huis gemurmureer, en gesê: Hierdie laastes het maar een uur gewerk, en U het hulle aan ons gelyk gemaak wat die las en hitte van die dag gedra het. Maar hy antwoord een van hulle en sê: Vriend, ek doen jou geen onreg nie; het jy nie met my ooreengekom vir 'n penning nie? Neem wat joune is, en gaan heen: Ek sal aan hierdie laaste gee soos aan jou. Is dit my nie geoorloof om met my eie te doen wat ek wil nie? Is jou oog sleg, omdat ek goed is? So sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste, want baie is geroep, maar min uitverkies.
MATTEUS 20:1-16 Die Boodskap (DB)
Daarna vertel Jesus vir hulle ’n verhaal: “Weet julle, in God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n boer wat vroeg een oggend by die markplein ’n paar werklose mense gaan huur het om daardie dag vir hom op sy plaas te kom werk. Hy kom toe met hulle ooreen om hulle 100 rand vir die dag se werk te betaal. “So teen nege-uur die oggend het die boer weer ’n draai daar by die markplein gemaak. Hy sien toe nog ’n paar werkloses daar rondstaan. Dadelik het hy hulle ook gehuur om op sy plaas te kom werk. ‘Ek betaal julle 100 rand vir die dag,’ het hy vir hulle gesê. “Teen twaalfuur en ook teen drie-uur was die boer weer by die markplein. Elke keer het hy nog werkers gehuur wat daar rondgestaan het. Laatmiddag, so teen vyfuur se kant, het hy vir oulaas by die mark ’n draai gemaak. Hy tref toe weer ’n klompie werkloses daar aan en vra vir hulle: ‘Vir wat staan julle die hele dag hier rond sonder om iets te doen?’ “‘Wel, niemand het vir ons werk nie,’ antwoord hulle. “‘Kom werk dan daar by my in my wingerd op die plaas,’ sê die boer toe. “’n Rukkie later, toe dit begin donker word, sê die boer vir sy voorman: ‘Kry gou al die werkers bymekaar en betaal hulle. Begin by diegene wat ek laaste in diens geneem het en eindig by dié wat van vroeg af werk.’ “Die werkers wat eers teen vyfuur begin werk het, het toe elkeen 100 rand gekry, die geld wat die boer vir ’n volle dag se werk betaal. Die ander wat heel eerste begin werk het, het toe by hulleself gedink dat hulle meer as dit betaal sou word. Maar hulle het ook presies dieselfde bedrag gekry: 100 rand. Hulle was baie kwaad daaroor. Hulle het hardop begin protesteer en vir die boer gaan sê: ‘Kyk, hierdie laaste spul werkers het net ’n uur lank gewerk. En nou word hulle dieselfde as ons betaal. Dis mos nie regverdig nie. Ons moes ’n hele dag in die warm son sweet, nie hulle nie!’ “Die boer sê toe vir die werkers se segsman: ‘My vriend, ek was glad nie onbillik teenoor julle nie. Ek het mos met julle ooreengekom om julle 100 rand te betaal, nie waar nie? Vat julle geld en gaan huis toe. Ek het besluit dat ek vir die arbeiders wat laaste kom werk het dieselfde as vir julle wil betaal. Dit is mos my geld. Ek kan daarmee maak wat ek wil. Hoekom is julle dan kwaad vir my omdat ek daarmee goeddoen?’” In God se wêreld keer die rolle heeltemal om. Daar sal mense wat nou onbelangrik is, die heel belangrikste wees, terwyl almal wat nou belangrik is, glad nie sal tel nie.
MATTEUS 20:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur. Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk. “Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie. Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’ Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal. “Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’ “Teen die aand het hy aan sy voorman opdrag gegee om die werkers te roep en hulle loon aan hulle uit te betaal. ‘Begin by die laastes en eindig by die eerstes,’ het hy vir hom gesê. Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ’n voldag se betaling. Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon. “Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer en gesê: ‘Hierdie laatkommers het net ’n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’ “Hy reageer toe teenoor een van hulle: ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie. Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie? Neem dit en gaan. Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou. Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink? Of voel jy bitter omdat ek so gaaf is?’ “So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”