MATTEUS 19:16-26

MATTEUS 19:16-26 Bybel vir almal (ABA)

Iemand het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Meneer, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te kry?” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom vra jy vir My wat is goed? Daar is net Een wat goed is, en dit is God. Maar as jy die ewige lewe wil kry, dan moet jy gehoorsaam wees aan God se wette.” Die man sê toe: “Watter wette?” Jesus het vir hom gesê: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer,” en “ jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” Die jongman sê toe vir Jesus: “Ek het alles gedoen wat God se wette sê. Wat moet ek nóg doen?” Jesus het vir hom gesê: “As jy waarlik alles wil doen wat God se wette sê, dan moet jy alles gaan verkoop wat jy het en jy moet die geld vir die arm mense gee. As jy dit doen, dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Toe die jongman hoor wat Jesus sê, was hy baie hartseer en hy het weggegaan, want hy was baie ryk. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Dit sal baie moeilik wees vir 'n ryk mens om in te kom waar God Koning is, God wat in die hemel is. Ek sê dit weer vir julle: 'n Ryk mens sal moeilik inkom waar God Koning is, God wat in die hemel is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Toe die dissipels dit hoor, was hulle verbaas en hulle het gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk en Hy het vir hulle gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.”

MATTEUS 19:16-26 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.” “Watter voorskrifte?” het die man gevra. “Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie; jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.” “Ag wat, ek doen daardie dinge al van kleins af,” sê die jongman toe. “Miskien is daar nog so ’n klein ietsie ekstra wat ek dalk kan doen, net om honderd persent seker te maak dat ek by God uitkom. Sê my, asseblief.” Hierop sê Jesus: “Nou goed. As jy God se voorskrifte een honderd persent wil hou, moet jy al jou besittings verkoop. Gee dan al daardie geld vir die armes. Los alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit alles doen, het jy vir jouself ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Jesus se woorde het die jongman baie omgekrap. Dit was die laaste woorde wat hy wou hoor, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om sy besittings aan sy familie en aan die armes uit te deel nie. Die jongman het toe dikmond omgedraai en weggestap. Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie. Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.” Jesus se woorde het die dissipels se voete onder hulle uitgeslaan. Verbysterd vra hulle Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word? Hoe sal iemand ooit ’n plek in God se wêreld kry?” Jesus het hulle stip aangekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. As julle op Hom vertrou, sal Hy sorg dat julle wel in sy wêreld inkom.”

MATTEUS 19:16-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.” Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?” Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie; respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?” Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.” Toe die jong man dít hoor, het hy geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle dit is bitter moeilik vir ’n ryke om in God se koninkryk in te gaan. Ek wil dit beklemtoon, dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te gaan as wat dit vir ’n ryke is om in God se koninkryk in te gaan.” Toe hulle dit hoor, was die dissipels totaal verbysterd. “As dit so is, wie kan dan hoegenaamd verlos word?” het hulle gevra. Daarop het Jesus hulle aandagtig aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik!”