MATTEUS 18:15-20
MATTEUS 18:15-20 Bybel vir almal (ABA)
“As een van die ander gelowiges sonde gedoen het teen jou, dan moet jy eers met hom raas waar julle twee alleen is. As hy luister na jou, dan is hierdie gelowige weer saam met jou. Maar as hy nie wil luister na jou nie, dan moet jy nog een of twee gelowiges saam met jou neem. Die Ou Testament sê twee of drie getuies moet sê wat gebeur het. Maar as hy ook nie na hulle wil luister nie, dan moet jy dit vir die gemeente sê. En as hy ook nie na die gemeente wil luister nie, dan moet hy vir julle wees soos 'n heiden en 'n tollenaar. Ek sê vir julle, en dit is seker: Almal wat nie by julle die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom. Ek sê vir julle nog iets, en dit is seker: Wanneer twee van julle hier op aarde bid en saamstem oor enige iets wat julle vir God vra, dan sal my Vader wat in die hemel is, dit vir hulle gee. Want waar twee of drie van julle bymekaar is om My te aanbid, daar is Ek by hulle.”
MATTEUS 18:15-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.
MATTEUS 18:15-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel. “Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
MATTEUS 18:15-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die •gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die •tollenaar. “•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees, en wat julle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbind wees. Verder, amen, Ek sê vir julle: As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan. Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde. ”
MATTEUS 18:15-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En as jou broer teen jou oortree, gaan vertel hom sy skuld tussen jou en hom alleen; as hy na jou luister, het jy jou broer gewen. Maar as hy na jou nie luister nie, neem dan nog een of twee saam met jou, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord vasgestel kan word. En as hy nalaat om na hulle te luister, vertel dit aan die gemeente; maar as hy na die gemeente luister, laat hom vir jou wees soos 'n heiden en 'n tollenaar. Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Weer sê Ek vir julle, dat as twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat hulle sal vra, dit vir hulle gedoen sal word deur my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam bymekaar is, daar is Ek in hulle midde.
MATTEUS 18:15-20 Die Boodskap (DB)
“As ’n ander gelowige jou op die een of ander manier sleg behandel het, moet jy die saak alleen met hom gaan uitpraat. As hy na jou luister, was dit alles die moeite werd. Dan het jy hom teruggekry op God se pad. As dit nie help nie, moet jy nog een of twee persone saamvat en weer gaan probeer. Die teenwoordigheid van twee of drie getuies kan hom dalk tot sy sinne ruk. Wanneer hy selfs nie na hulle wil luister nie, moet jy maar vir al die ander gelowiges gaan vertel wat gebeur het. As dit uiteindelik ook nie help nie, moet julle hierdie persoon as ’n ongelowige en ’n sondaar beskou. So iemand hoort dan nie meer in die kerk nie. “Ek gee aan julle groot gesag: ’n ja van julle hier op aarde is ’n ja in die hemel. En ’n nee van julle is ’n nee in die hemel. Wat Ek bedoel, is dit: as julle iemand wat tot bekering gekom het as ’n broer of ’n suster binne die kerk ontvang, geld dit ook in die hemel. En as julle iemand wat in sonde leef, verbied om langer aan die kerk te behoort geld dit ook in die hemel. “Ek het nog goeie nuus vir julle. As twee van julle saamstem oor enige saak wat swaar op julle hart lê en julle gaan praat met my hemelse Vader daaroor, sal julle gebed verhoor word. Julle sal kry wat julle gevra het. Onthou: Ek is altyd by julle, selfs daar waar net twee of drie van julle in my Naam bymekaarkom om te bid.”
MATTEUS 18:15-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“As een van jou medegelowiges iets verkeerds teen jou gedoen het, gaan wys hom daarop. Maar hou dit tussen julle twee. As hy sy fout insien en erken, het jy hom teruggewen. Maar as jy nie daarin slaag nie, neem nog een of twee saam met jou. So sal daar twee of drie getuies wees om te bevestig wat gesê word. Maar as hy nog steeds weier om te luister, moet jy dit aan die gemeente gaan meedeel. As hy egter ook weier om na die gemeente te luister, moet hy vir jou wees soos ’n ongelowige of ’n tollenaar. Dít verseker Ek julle: Watter dinge julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees. En watter dinge julle ook op die aarde losmaak, sal in die hemel losgemaak wees. “Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen. Waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar.”