MATTEUS 17:4-9
MATTEUS 17:4-9 Bybel vir almal (ABA)
Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, dan sal ek hier drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus was nog besig om te praat, toe het 'n helder wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “ Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly. Julle moet doen wat Hy sê.” Toe die dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en hulle het met hulle gesig teen die grond gaan lê. Jesus het na hulle toe gekom en Hy het aan hulle geraak en gesê: “Staan op, moenie bang wees nie.” Toe die dissipels opkyk, het hulle net vir Jesus gesien, niemand anders nie. Jesus en sy dissipels het van die berg afgekom, en Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie. God moet My, die Seun van die mens, eers weer laat lewe, dan mag julle dit vertel.”
MATTEUS 17:4-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. Terwyl hy nog spreek, oordek 'n helderligte wolk hulle meteens en daar sê 'n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom! En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie. Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen. En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.
MATTEUS 17:4-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.” Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen. Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.”
MATTEUS 17:4-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, laat my toe om hier drie hutte te bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Terwyl hy nog praat, het 'n helder wolk skielik 'n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, 'n stem uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Toe die dissipels dit hoor, het hulle op hulle gesigte neergeval, oorval deur vrees. Jesus het nader gekom, en nadat Hy hulle aangeraak het, sê Hy: “Staan op en moenie langer bang wees nie.” Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, behalwe net Jesus self. Terwyl hulle teen die berg afgaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie.”
MATTEUS 17:4-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe antwoord Petrus en sê vir Jesus: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak; een vir jou en een vir Moses en een vir Elia. Terwyl Hy nog spreek, kyk, 'n helder wolk het hulle oorskadu, en daar was 'n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het; hoor hom. En toe die dissipels dit hoor, val hulle op hul aangesig en was baie bang. En Jesus het gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en wees nie bevrees nie. En toe hulle hul oë opslaan, het hulle niemand gesien nie, behalwe Jesus alleen. En toe hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Vertel niemand die gesig totdat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.
MATTEUS 17:4-9 Die Boodskap (DB)
Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang was nie. Hy bied toe maar aan om drie spesiale tente op te rig: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. Terwyl hy nog so staan en praat, het ’n helder wolk hulle skielik omring. Toe sê daar ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Wat Hy doen, verskaf My groot vreugde. Luister na wat Hy vir julle sê!” Toe die drie dissipels hierdie stem hoor, het hulle hulle morsdood geskrik. Hulle het plat op hulle gesigte neergeval. Jesus het egter na hulle toe gestap en hulle aangeraak. “Staan maar op. Julle hoef nie bang te wees nie,” het Hy vir hulle gesê. Toe hulle hul oë oopmaak, sien hulle slegs vir Jesus by hulle staan. Daarna, terwyl hulle van die berg afklim, sê Jesus vir die dissipels: “Julle mag vir niemand vertel wat julle op die berg gesien het nie. Eers wanneer Ek, die Seun van die mens, uit die dood opgestaan het, kan julle vir ander mense hiervan vertel.”
MATTEUS 17:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.” Maar terwyl hy nog praat, oordek ’n helderglansende wolk hulle, en daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê.” Toe hulle dit hoor, het die dissipels plat op die grond neergeval. Hulle het groot geskrik. Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle: “Staan gerus maar op; moenie bang wees nie.” Toe hulle opkyk, sien hulle niemand anders meer daar nie, net vir Jesus alleen. Terwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie, totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgewek word.”