MATTEUS 14:23-27
MATTEUS 14:23-27 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Jesus al die mense huis toe gestuur het, het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid. Dit het donker geword en Jesus was alleen daar. Die boot was toe ver van die land. Die branders het die boot rondgegooi, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend, voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gekom. Hy het op die see geloop. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle baie bang geword en gesê: “Dit is 'n spook!” Hulle was baie bang, en hulle het hard geskree. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.”
MATTEUS 14:23-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is 'n spook! En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.
MATTEUS 14:23-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
MATTEUS 14:23-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy teen die berg opgegaan om in afsondering te bid. Toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. Die boot was reeds 'n hele aantal stadion weg van die land af, en is deur die golwe heen en weer geslinger, want die wind was teen hulle. In die vierde nagwaak het Hy na hulle toe aangeloop gekom op die see. Toe die dissipels Hom op die see sien loop, het hulle vreesbevange geraak en gesê, “Dit is 'n spook!” en van angs begin skreeu. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.”
MATTEUS 14:23-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy op 'n berg afgesonder om te bid; en toe dit aand geword het, was Hy alleen daar. Maar die skip was nou in die middel van die see, deur die golwe gegooi, want die wind was teenstrydig. En in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gegaan terwyl hy op die see wandel. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, was hulle ontsteld en sê: Dit is 'n gees; en hulle het uitgeroep uit vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed; dit is ek; wees nie bang nie.
MATTEUS 14:23-27 Die Boodskap (DB)
Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly. Intussen was die dissipels reeds ver uit op die see toe daar ’n storm opsteek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor het dit vir hulle baie moeilik gemaak om te roei. Kort voor dagbreek die volgende môre het Jesus besluit om na sy dissipels toe te gaan. Hy het sommer op die water na hulle toe gestap. Toe die dissipels Hom sien, het hulle hulle morsdood geskrik. “’n Spook, ’n spook!” het hulle benoud uitgeroep. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.”
MATTEUS 14:23-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar. Ondertussen was die skuit reeds ver van die land af. Met ’n sterk wind teen hulle moes hulle teen woeste golwe veg. Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”