MATTEUS 14:18-21
MATTEUS 14:18-21 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.” Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders.
MATTEUS 14:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol. En dit was omtrent vyfduisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders.
MATTEUS 14:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Bring dit vir My hier,” sê Hy. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.
MATTEUS 14:18-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.” Nadat Hy die skare aangesê het om op die gras te gaan sit, het Hy die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe gebreek, vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, twaalf mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar ongeveer vyfduisend mans wat geëet het.
MATTEUS 14:18-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy sê: Bring hulle hier na my toe. En Hy het die skare bevel gegee om op die gras te gaan sit, en Hy het die vyf brode en die twee visse geneem en na die hemel opgekyk, geseën en gebreek en die brode aan sy dissipels gegee en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword, en van die brokstukke wat oorgebly het, het hulle twaalf mandjies vol opgetel. En die wat geëet het, was omtrent vyf duisend man, buiten vroue en kinders.
MATTEUS 14:18-21 Die Boodskap (DB)
Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was.
MATTEUS 14:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel! Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders.