MATTEUS 14:13-23
MATTEUS 14:13-23 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gehoor wat gebeur het. Hy het toe in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gehoor waar Jesus is en hulle het na Hom toe geloop uit die stede. Jesus het uit die boot geklim en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy het die siek mense wat by hulle was, gesond gemaak. Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.” Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.” Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders. Daarna het Jesus vir die dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en voor Hom na die ander kant van die see gaan. Hy wou eers vir die mense sê hulle moet huis toe gaan. Nadat Jesus al die mense huis toe gestuur het, het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid. Dit het donker geword en Jesus was alleen daar.
MATTEUS 14:13-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n skuit vertrek na 'n verlate plek alleen. En die skare het dit gehoor en Hom van die stede af te voet gevolg. EN toe Jesus uitgaan, het Hy 'n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. En toe dit aand geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol. En dit was omtrent vyfduisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders. EN Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.
MATTEUS 14:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.” Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” “Bring dit vir My hier,” sê Hy. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders. Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.
MATTEUS 14:13-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op sy eie te wees. Maar die skare het dit te hore gekom en Hom te voet uit die dorpe gevolg. Toe Hy uitklim, het Hy die groot skare gesien, hulle innig jammer gekry en hulle siekes gesond gemaak. Toe dit laat begin word, kom die dissipels na Hom en sê: “Die plek is verlate, en dit is reeds laat. Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop. ” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.” Nadat Hy die skare aangesê het om op die gras te gaan sit, het Hy die vyf brode en twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe gebreek, vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, twaalf mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar ongeveer vyfduisend mans wat geëet het. En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en solank voor Hom uit na die oorkant te vaar, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy teen die berg opgegaan om in afsondering te bid. Toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.
MATTEUS 14:13-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan per skip vertrek na 'n verlate plek afgesonder; en toe die skare dit hoor, het hulle Hom te voet uit die stede gevolg. En Jesus het uitgegaan en 'n groot menigte gesien, en Hy was innig jammer vir hulle, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. En toe dit aand geword het, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en die tyd is nou verby; stuur die skare weg, dat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel kan koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. Hy sê: Bring hulle hier na my toe. En Hy het die skare bevel gegee om op die gras te gaan sit, en Hy het die vyf brode en die twee visse geneem en na die hemel opgekyk, geseën en gebreek en die brode aan sy dissipels gegee en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword, en van die brokstukke wat oorgebly het, het hulle twaalf mandjies vol opgetel. En die wat geëet het, was omtrent vyf duisend man, buiten vroue en kinders. En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in 'n skip te klim en voor Hom uit na die oorkant te gaan, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy op 'n berg afgesonder om te bid; en toe dit aand geword het, was Hy alleen daar.
MATTEUS 14:13-23 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur. Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly.
MATTEUS 14:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus dit hoor, het Hy in ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom. Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ’n massa mense bymekaar was. Hy het ’n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak. Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.” “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.” “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel! Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders. Dadelik hierna het Jesus sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur. Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar.