MATTEUS 14:13-22

MATTEUS 14:13-22 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gehoor wat gebeur het. Hy het toe in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gehoor waar Jesus is en hulle het na Hom toe geloop uit die stede. Jesus het uit die boot geklim en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy het die siek mense wat by hulle was, gesond gemaak. Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.” Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.” Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders. Daarna het Jesus vir die dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en voor Hom na die ander kant van die see gaan. Hy wou eers vir die mense sê hulle moet huis toe gaan.

MATTEUS 14:13-22 Die Boodskap (DB)

Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.” Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was. Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur.