MATTEUS 12:39-41 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MATTEUS 12:39-41 AFR83 (Afrikaans 1983)

Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!

MATTEUS 12:39-41 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier!

MATTEUS 12:39-41 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona. “Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie.

MATTEUS 12:39-41 DB (Die Boodskap)

“Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister.

MATTEUS 12:39-41 ABA (Bybel vir almal)

Maar Jesus het vir hulle gesê: “Slegte en goddelose mense soos julle wil 'n wonderteken hê, hulle wil 'n bewys sien. God sal nie 'n teken vir julle wys nie. Julle sal net een teken kry, dit is die teken van die profeet Jona. Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis. So sal Ek, die Seun van die mens, ook drie dae en drie nagte in die graf wees. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.

MATTEUS 12:39-41 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hy het hulle geantwoord: “'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die •Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het; en waarlik, wat hier is, is meer as Jona.

MATTEUS 12:39-41 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek 'n teken; en daar sal geen teken aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die walvis was; so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Nineve sal saam met hierdie geslag in die oordeel opstaan en dit veroordeel, omdat hulle hulle bekeer het op die prediking van Jona; en kyk, hier is 'n groter as Jona.