MATTEUS 12:34-37 - Compare All Versions
MATTEUS 12:34-37 ABA (Bybel vir almal)
Julle is soos slange! Julle is self slegte mense, daarom kan julle nie iets sê wat goed is nie. Die dinge wat 'n mens sê, wys wat in sy hart is. 'n Goeie mens het 'n klomp goeie dinge in sy hart, daarom praat hy altyd goeie en mooi woorde. 'n Slegte mens het 'n klomp slegte dinge in sy hart, daarom praat hy altyd slegte dinge. Maar Ek sê vir julle, die dag wanneer God die mense sal oordeel, sal elke mens vir God moet antwoord oor alles wat hy gesê het wat nie reg is nie. Want God sal julle oordeel oor wat julle gesê het, en Hy sal besluit of julle skuldig is of onskuldig.”
MATTEUS 12:34-37 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
MATTEUS 12:34-37 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart. “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”
MATTEUS 12:34-37 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore. Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. Want op grond van jou woorde sal jy geregverdig word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word.”
MATTEUS 12:34-37 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Addergeslag, hoe kan julle, wat sleg is, goeie dinge spreek? want uit die oorvloed van die hart spreek die mond. 'n Goeie mens bring uit die goeie skat van die hart goeie dinge te voorskyn, en 'n slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense spreek, daarvan sal hulle rekenskap gee op die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
MATTEUS 12:34-37 DB (Die Boodskap)
“Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’ As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.”
MATTEUS 12:34-37 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn. Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê. Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”