MATTEUS 12:22-45

MATTEUS 12:22-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien. En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?” Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.” Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie. As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan? En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is. “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. “Hoe kan iemand tog by die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar. “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.” “As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken. “Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart. “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.” Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona! Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”

MATTEUS 12:22-45 Bybel vir almal (ABA)

Die mense het 'n man na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Hy het 'n duiwel in hom gehad. Jesus het die man gesond gemaak, en die man kon weer praat en sien. Al die mense was verbaas. Hulle het gesê: “Is Jesus miskien die Seun van Dawid, of is Hy nie?” Die Fariseërs het gehoor wat die mense sê, en die Fariseërs het vir mekaar gesê: “Jesus jaag duiwels uit mense, maar Beëlsebul, die leier van die duiwels, help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Wanneer die mense in 'n land nie kan saamwerk met mekaar nie, dan sal vyande die land oorwin. En wanneer die mense in 'n stad of in 'n huisgesin nie kan saamwerk met mekaar nie, dan sal hulle nie bymekaar bly nie. Wat julle sê, beteken dat dit die Satan is wat die Satan uitjaag. As dit so is, dan is die Satan teen homself, en dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help dan julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is. Dit is die Gees van God wat My help om duiwels uit te jaag, en dit bewys dat God die Koning is wat begin regeer het oor julle. 'n Mens kan nie maklik in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom. Daarom sê Ek vir julle: God sal mense vergewe as hulle sonde doen of sleg praat van iemand. Maar as iemand sleg praat van die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie. As iemand iets sê teen die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe, maar as iemand iets sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie, nie in hierdie lewe nie, en ook nie in die lewe wat sal kom nie.” “Julle weet 'n goeie boom dra goeie vrugte en 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Mens ken 'n boom wanneer jy sien watter vrugte dit dra. Julle is soos slange! Julle is self slegte mense, daarom kan julle nie iets sê wat goed is nie. Die dinge wat 'n mens sê, wys wat in sy hart is. 'n Goeie mens het 'n klomp goeie dinge in sy hart, daarom praat hy altyd goeie en mooi woorde. 'n Slegte mens het 'n klomp slegte dinge in sy hart, daarom praat hy altyd slegte dinge. Maar Ek sê vir julle, die dag wanneer God die mense sal oordeel, sal elke mens vir God moet antwoord oor alles wat hy gesê het wat nie reg is nie. Want God sal julle oordeel oor wat julle gesê het, en Hy sal besluit of julle skuldig is of onskuldig.” Party skrifgeleerdes en Fariseërs het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, ons wil hê U moet vir ons 'n wonderteken wys sodat ons kan sien U kom van God.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Slegte en goddelose mense soos julle wil 'n wonderteken hê, hulle wil 'n bewys sien. God sal nie 'n teken vir julle wys nie. Julle sal net een teken kry, dit is die teken van die profeet Jona. Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis. So sal Ek, die Seun van die mens, ook drie dae en drie nagte in die graf wees. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo.” “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek 'n plek waar hy kan woon. As hy nie 'n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, na die mens toe in wie ek gewoon het.’ Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos 'n huis wat leeg en skoon en netjies is. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle kom almal saam met hom, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was. Dit sal gebeur met die slegte mense wat nou lewe.”

MATTEUS 12:22-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het hulle 'n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie? Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie. Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat 'n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie. JULLE moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word. TOE spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag 'n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier! Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier! En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.

MATTEUS 12:22-45 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe is iemand wat deur 'n demoon besete, en blind en stom was, na Jesus gebring, en Hy het hom gesond gemaak, sodat die stomme kon praat en sien. Al die mense was uit die veld geslaan en het gesê: “Is hierdie man nie dalk die •Seun van Dawid nie?” Toe die •Fariseërs hiervan te hore kom, het hulle gesê: “Dit is slegs deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hierdie man demone uitdryf.” Omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal staande bly nie. As Satan Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly? En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel as hy nie eers die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis beroof. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. En wie iets teen die •Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling, nóg in die een wat kom.” “ Óf julle beskou die boom as goed en sy vrugte as goed, óf julle beskou die boom as sleg en sy vrugte as sleg. Aan sy vrugte word die boom immers geken. Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore. Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. Want op grond van jou woorde sal jy geregverdig word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word.” Toe het sommige van die skrifkenners en •Fariseërs gereageer en gesê: “Meester, ons wil graag 'n teken van u sien.” Hy het hulle geantwoord: “'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die •Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het; en waarlik, wat hier is, is meer as Jona. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor; en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. ” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, maar kry dit nie. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer kry hy dit onbewoon, uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag.”

MATTEUS 12:22-45 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe is 'n duiwelsbesete, blind en stom, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde sowel as die stomme gepraat en gesien het. En die hele volk was verbaas en sê: Is dit nie die seun van Dawid nie? Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hierdie man dryf nie duiwels uit nie, maar deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels. En Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bestaan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan bestaan? En as Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf, deur wie dryf julle kinders hulle uit? daarom sal hulle julle regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God na julle gekom. Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan en sy besittings buit, as hy nie eers die sterk man bind nie? en dan sal hy sy huis verwoes. Hy wat nie by my is nie, is teen my; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle: Alle soorte sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens spreek, hom sal dit vergewe word; maar elkeen wat teen die Heilige Gees spreek, dit sal hom nie vergewe word nie, ook nie in hierdie wêreld of in die toekomstige wêreld nie. Maak óf die boom goed en sy vrugte goed; of anders maak die boom bedorwe en sy vrugte bedorwe, want aan sy vrugte word die boom geken. Addergeslag, hoe kan julle, wat sleg is, goeie dinge spreek? want uit die oorvloed van die hart spreek die mond. 'n Goeie mens bring uit die goeie skat van die hart goeie dinge te voorskyn, en 'n slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense spreek, daarvan sal hulle rekenskap gee op die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word. En sommige van die skrifgeleerdes en van die Fariseërs het geantwoord en gesê: Meester, ons sou 'n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek 'n teken; en daar sal geen teken aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die walvis was; so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Nineve sal saam met hierdie geslag in die oordeel opstaan en dit veroordeel, omdat hulle hulle bekeer het op die prediking van Jona; en kyk, hier is 'n groter as Jona. Die koningin van die Suide sal saam met hierdie geslag in die oordeel opstaan en dit veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde af gekom om die wysheid van Salomo te hoor; en kyk, hier is 'n groter as Salomo. Wanneer die onreine gees uit 'n mens uitgegaan het, loop hy deur droë plekke en soek rus en kry niks nie. Toe sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het; en as hy kom, vind hy dit leeg, uitgevee en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself saam, en hulle gaan in en woon daar; en die laaste toestand van daardie man is erger as die eerste. So sal dit ook wees met hierdie goddelose geslag.

MATTEUS 12:22-45 Die Boodskap (DB)

Toe bring hulle ’n man na Hom toe wat so in die vernietigende mag van die duiwel was dat hy nie eens kon sien of praat nie. Die duiwel was egter nie teen Jesus opgewasse nie. Jesus het die man gesond gemaak. Daarna kon hy weer normaal praat en sien wat om hom aangaan. Dit het die omstanders baie beïndruk. In verwondering het hulle vir mekaar gevra: “Is Jesus nie dalk die Een wat weer soos koning Dawid oor ons gaan regeer nie?” Die Fariseërs was glad nie gelukkig toe hulle die mense dit hoor sê nie. “Nee wat, moenie julle laat kul nie,” het hulle probeer keer. “Hierdie man is baie goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste so na hom.” Hierdie skynheiliges kon egter niks vir Jesus wegsteek nie. Hy het geweet wat hulle dink. Daarom was sy teenargument gereed: “’n Weermag met soldate wat oor elke liewe ding onder mekaar baklei, sal nooit ’n oorlog kan wen nie. ’n Gesin waarin elkeen net heeltyd die ander wil teengaan, sal uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan alles vir hom eindig? Hy sal dit mos nooit doen nie! “Dit is nie al nie. Sê My, julle dryf ook mos demone uit. As julle sê Ek kan dit net doen omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wie se vriende maak dit julle? Toe, werk die antwoord uit. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle ook weet waarom Ek demone kan verjaag. Julle sal agterkom dat Ek die demone deur die hulp en krag van God se Gees verwilder. Dan sal julle ook moet toegee: waar Ek hier tussen julle werk, is God ook aan die werk. Hy heers tog oor alles en almal. “Kom ons gebruik ’n beeld. Hoe op aarde dink julle sal dit moontlik wees om sommer by die huis van ’n sterk, gesonde man in te stap en voor hom al sy goed te steel? Hy sal jou mos keer, tensy jy hom eers oorrompel en stewig vasbind. “Wat sê hierdie argumente vir julle? Dít, dat julle kan aflei aan wie se kant Ek staan. Nou staan julle voor die keuse: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan die kant van my vyand. “Daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk. “Julle kan liewer nog hierdie dinge van My sê, maar moenie dit van die Heilige Gees sê nie. Dan is julle regtig in groot moeilikheid by God. God sal julle dit nooit vergewe nie. “Julle weet mos dat sommige bome lekker eetbare vrugte dra, terwyl ander bome se vrugte nutteloos is omdat dit ’n hopelose boom is. ’n Mens weet of ’n boom goed of sleg is deur na sy vrugte te kyk. Net so is dit met mense. Moet julle dus nie dom hou nie. Eetbare vrugte kom nie van nuttelose bome af nie. “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’ As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.” Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.” “Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister. “Dink maar aan die koningin van Skeba wat die hele ent uit die verre Afrika gekom het om na die wyse koning Salomo te luister. En kyk, hier voor julle staan Een by wie Salomo kan gaan leer. En wat maak julle? Julle kibbel oor tekens. Julle sal sleg afsteek by die koningin van Skeba. Sy is die lewende bewys van hoe koppig julle regtig is. “Maar Ek kan dit in ’n sekere sin verstaan. Julle weet, as ’n onrein gees uit ’n mens verwilder word, soek hy ’n ander plek waar hy kan bly. As hy nie so ’n plek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dolleeg, mooi skoon en reg. Daarna gaan haal hy sommer nog ’n klomp ander bose geeste wat ook plek soek. Hulle is nog slegter as hy. Die hele bende van hulle bly dan sommer in die een huis. Sowaar, vir so ’n mens sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God maar liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die kans gehad het. Dit is ’n les wat die slegte mense onder julle nog nie geleer het nie.”

MATTEUS 12:22-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n bose gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat. Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?” Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat hy bose geeste kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.” Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie. As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly? En as Ek met die krag van Beëlsebul die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees. “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die bose geeste uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is. Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar. “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie. Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie. “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie. “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn. Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê. Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.” Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van u sien om te bewys dat u van God af kom.” Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona. “Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie. Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister! “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie. Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant. Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. “Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid