MATTEUS 12:18-21
MATTEUS 12:18-21 Bybel vir almal (ABA)
“God sê: Hier is my Dienaar. Ek het Hom gekies om vir My te werk. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly. Ek sal my Heilige Gees vir Hom gee en Hy sal vir al die volke vertel wat Ek wil hê. Hy sal nie met mense stry nie en Hy sal nie skree nie. Die mense in die strate sal Hom nie hoor praat nie. Die Dienaar sal nie 'n stukkende riet afbreek nie. Hy sal nie 'n lamp wat dof brand, doodblaas nie. Ja, Hy sal jammer wees vir die mense wat swaarkry en wat swak is. Hy sal dit doen totdat Ek gedoen het wat Ek wil doen. Al die volke sal seker weet dat die Dienaar hulle sal red.”
MATTEUS 12:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel 'n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en 'n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop.
MATTEUS 12:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees op Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. 'n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en 'n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier. En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”
MATTEUS 12:18-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Kyk, my Dienskneg wat Ek gekies het, my Geliefde oor wie Ek My verbly! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal die reg aan die nasies verkondig. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie; sy stem sal 'n mens nie in die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, en 'n rokende lamppit sal Hy nie uitdoof nie, totdat Hy die reg laat seëvier. En op sy Naam sal die nasies hulle hoop vestig.”
MATTEUS 12:18-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar is my kneg wat Ek uitverkies het; my beminde, in wie my siel 'n welbehae het; Ek sal my Gees op hom lê, en hy sal die oordeel aan die heidene bekend maak. Hy sal nie twis en nie huil nie; en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal hy nie breek nie, en rokende vlas sal hy nie uitblus nie, totdat hy die oordeel tot oorwinning uitstuur. En op sy Naam sal die heidene vertrou.
MATTEUS 12:18-21 Die Boodskap (DB)
“Dit is my Seun dié wat Ek uitgekies het, Ek het Hom baie lief. Hy maak My so bly. Hy sal die krag hê wat my Gees gee, met die finale oordeel sal Hy die regter oor alle mense wees. Hy sal nie raas en baklei nie. Hy sal nie op mense in die hoofstraat skel nie. Iemand wat seergekry het, sal Hy nie seerder maak nie. Hy sal ook nie iemand wat in die moeilikheid is, verder in die moeilikheid bring nie; inteendeel! Hy help mense om die geestelike wenpaal te haal. Hulle sal dan nie meer oor God se oordeel bekommerd hoef te wees nie. Mense van oral af sal al hulle hoop op Hom rig!”
MATTEUS 12:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hier is my Dienskneg wat Ek uitgekies het. Hom het Ek lief. Hy maak my hart baie bly. Ek sal my Gees op Hom laat rus en Hy sal my besluit aan die nasies bekendmaak. Hy sal nie met mense stry of ’n groot lawaai maak nie. Hy sal nie sy stem in die openbaar verhef nie. Hy sal dié wat reeds geknak is, nie nog verder verbrysel nie en die vonkie hoop wat nog oorgebly het, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy my besluit laat seëvier. Ja, op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”