MATTEUS 12:11-12
MATTEUS 12:11-12 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “As een van julle een skaap het, en die skaap val op die Sabbatdag in 'n watersloot, wat sal julle doen? Julle sal dadelik die skaap gryp en uit die sloot uithaal. En 'n mens is vir God baie belangriker as 'n skaap. Daarom mag 'n mens op die Sabbatdag goeie dinge aan mense doen.”
MATTEUS 12:11-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in 'n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.
MATTEUS 12:11-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy sê toe vir hulle: “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie? Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.”
MATTEUS 12:11-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het egter vir hulle gesê: “Watter mens onder julle wat net een skaap het, sal dit nie gryp en uithaal as dit op die Sabbat in 'n sloot val nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen. ”
MATTEUS 12:11-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy sê vir hulle: Watter man sal daar onder julle wees wat een skaap sal hê, en as dit op die sabbatdag in 'n put val, sal hy dit nie gryp en uithaal nie? Hoeveel is 'n mens dan beter as 'n skaap? Daarom is dit geoorloof om goed te doen op die sabbatdae.
MATTEUS 12:11-12 Die Boodskap (DB)
Maar Jesus het dwarsdeur hulle plannetjies gesien. “Sê nou ’n man het net een skaap. Op die sabbat val daardie skaap in ’n diep gat en bly daar lê, hulpeloos. Wie sal nie sy skaap probeer beetkry en uit die gat help nie? Natuurlik sal julle almal dit doen, nie waar nie? Nou het Ek vir julle nog ’n vraag: Is ’n skaap naastenby soveel werd as ’n mens? Eintlik is dit tog ’n belaglike vraag. Daarom, as jy ’n skaap op die sabbat sal help, mag jy sekerlik ’n mens ook help. Dus, gebruik die sabbat om goed te wees vir ander mense.” Die Jode was stil. Hulle kon nie aan ’n enkele teenargument dink nie.
MATTEUS 12:11-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie! Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.”