MATTEUS 12:1-8
MATTEUS 12:1-8 Bybel vir almal (ABA)
In daardie tyd het Jesus en sy dissipels op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword en hulle het begin om koring-are te pluk en die koringkorrels te eet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Jesus: “Kyk, jou dissipels doen iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Hy mag nie van daardie brood geëet het nie en die manne wat saam met hom was, mag ook nie daarvan geëet het nie. Net die priesters mag daardie brood eet. Julle weet ook dat die Wette van Moses sê dat die priesters op die Sabbatdag in die tempel moet werk. Breek hulle dan die wette oor die Sabbatdag? Ja, maar God sê die priesters doen nie verkeerd as hulle op die Sabbatdag werk nie. En Ek sê vir julle: Hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as die tempel. Julle moet verstaan wat die woorde beteken: ‘Die Here sê: Ek wil nie offers hê nie, maar Ek wil hê julle moet goed wees vir mense.’ As julle dit verstaan, dan sal julle nie mense beskuldig wat niks verkeerd gedoen het nie, want Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”
MATTEUS 12:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het — hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
MATTEUS 12:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
In dié tyd het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.” Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters. Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie. “Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”
MATTEUS 12:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword, en begin om die are te pluk en te eet. Toe die •Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk, u dissipels doen iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie. ” Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan, en hulle die •vertoonbrode geëet het – waarvan nie hy of dié saam met hom mag geëet het nie, maar net die priesters? Of het julle nie in die Wet gelees dat die priesters die Sabbat ontheilig wanneer hulle op die Sabbat in die •tempel diens doen, maar tog onskuldig bly nie? Ek sê vir julle: Wat hiér is, is groter as die tempel. As julle maar net begryp het wat bedoel word met ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Die •Seun van die Mens is immers Here van die Sabbat.”
MATTEUS 12:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In daardie tyd het Jesus op die sabbatdag deur die koring gegaan; en sy dissipels was honger en het begin om are af te pluk en te eet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbatdag te doen nie. Maar hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was en die wat by hom was nie; Hoe hy in die huis van God ingegaan het en die toonbrode geëet het wat hom nie geoorloof was om te eet nie, ook nie vir die wat by hom was nie, maar net vir die priesters? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters in die tempel op die sabbat die sabbat ontheilig en onberispelik is nie? Maar Ek sê vir julle dat daar in hierdie plek een is wat groter is as die tempel. Maar as julle geweet het wat dit beteken, Ek wil barmhartigheid hê en nie offer nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie. Want die Seun van die mens is Here ook van die sabbatdag.
MATTEUS 12:1-8 Die Boodskap (DB)
Een sabbat stap Jesus en sy dissipels op ’n voetpaadjie deur ’n koringland. Sy dissipels begin toe honger voel en pluk koringare af en begin daaraan peusel. Die Fariseërs het hulle natuurlik soos valke dopgehou en was dadelik by: “Wat gaan hier aan? Kyk net hoe breek jou dissipels ons godsdienstige reëls. Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie!” Rustig antwoord Jesus hulle: “Het julle nog nie in julle Bybel gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? Het julle al vergeet hoe hulle die reëls oortree en sommer die brood geëet het wat spesiaal vir God eenkant gesit is? Net God se priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Nog ’n vraag: Het julle ook nog nie in die Bybel gelees dat priesters op die sabbat in die tempel moet werk nie? Wat beteken dit? Ja, natuurlik, hulle is verplig om op die sabbat te werk. Maak dit nou sondaars van hulle? Tog sekerlik nie! En wat leer dit ons? Daar kom situasies waarin skynbaar belangrike wette ter wille van nog belangriker sake verslap kan word. “Maar hoe moet ons nou weet wanneer die een saak ‘belangriker’ as die ander is? Laat Ek vir julle sê. Hier voor julle staan Iemand wat belangriker is as alle godsdienstige reëls. As julle moet kies tussen gehoorsaamheid aan Hom en allerhande godsdienstige wette, kies Hom. Maar nou gaan julle hier tekere oor mense wat niks verkeerds doen nie, alles net omdat julle godsdienstige reëls dien en nie vir God nie. Julle verstaan God nou nog nie as Hy sê: Ek soek mense wat regtig vir ander omgee. Daarin stel Ek belang en nie in allerhande godsdienstige gewoontes nie. “Ek sê vir julle, die sabbat kan My nie soos ’n polisieman voorskryf wat Ek moet doen en wat nie. Ek is belangriker as die sabbat. Daarom kan Ek eerder sê wat op die sabbat gedoen mag word sodat die sabbat regtig sabbat kan wees.”
MATTEUS 12:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In dié tyd het Jesus op ’n Sabbatdag deur koringlande geloop. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en van die koring te eet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk wat doen jou dissipels. Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.” Jesus het hulle egter geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy mense honger geword het nie? Hoe hy selfs in die huis van God gegaan en hy en sy manne wederregtelik van die offerbrood geëet het wat vir die priesters gereserveer was. Of het julle nooit in die wet van Moses gelees dat die priesters wat op die Sabbatdag in die tempel diens doen en die Sabbat sodoende ‘ontheilig’, tog skotvry bly nie? Dít verseker Ek julle, Iemand groter as die tempel is hier by julle. As julle die Skrifwoord wat sê: ‘Ontferming is vir My belangriker as offers,’ werklik verstaan het, sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Ek, die Seun van die Mens, het immers ook seggenskap oor die Sabbat.”