LUKAS 5:20-24
LUKAS 5:20-24 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het saggies met mekaar gepraat en gesê: “Wie is hierdie man? Hy maak of hy God is. 'n Méns kan nie sondes vergewe nie, net God kan.” Maar Jesus het geweet wat hulle praat. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom sê julle dit? Wat is makliker om te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of ‘Staan op en loop?’ Ek wil nou vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Toe sê Jesus vir die lam man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”
LUKAS 5:20-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen? Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte? Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
LUKAS 5:20-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?” Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”
LUKAS 5:20-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe. ” Die skrifkenners en die Fariseërs het hulleself begin afvra: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.”
LUKAS 5:20-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en gesê: Wie is Hy wat godslastering spreek? Wie kan sondes vergewe, behalwe God alleen? Maar toe Jesus hulle gedagtes sien, antwoord Hy en sê vir hulle: Wat redeneer julle in julle harte? Of dit makliker is om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe, sê Hy vir die verlamde: Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis.
LUKAS 5:20-24 Die Boodskap (DB)
Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te lag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.” Hierdie woorde het die Joodse godsdienstige leiers lelik omgekrap. “Wie dink hy is hy dat hy sulke dinge sê?” het hulle onder mekaar gevra. “Hy praat mos nou godslasterlik. Hy het geen respek vir God nie. Net God kan tog sondes vergewe.” Jesus het geweet dat hulle staan en skinder. Daarom het Hy toe vir hulle gesê: “Wat dink julle gaan julle bereik met julle geskinder? Sê ’n bietjie vir My wat is die maklikste: om vir iemand te sê: ‘Jou sondes is afgeskryf’ of: ‘Staan op en loop gesond hier weg’? Natuurlik is dit nie moeilik om enigeen van hierdie dinge te sê nie. Woorde kom maklik. Maar om dit te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Wel, julle weet baie goed dat iemand net sondes kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Ek, die Seun van die mens, het daardie mag. Kyk nou mooi: Ek gaan dit doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het.” Jesus sê toe vir die lam man: “Staan op. Vat jou draagbaar en gaan terug na jou mense toe.”
LUKAS 5:20-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.” “Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?” Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself? Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’? Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.”