Lukas 5

5
Roeping van die eerste dissipels
(Matt 4:18-22; Mark 1:16-20; Joh 21:1-11)
1 Op 'n dag, toe Jesus langs die Meer van Gennesaret staan en die skare Hom verdring om die woord van God te hoor, 2sien Hy twee bote langs die meer lê. Die vissermanne het al uitgeklim en was besig om hulle nette uit te spoel. 3Jesus het in een van die bote geklim, die een wat aan Simon behoort, en hom gevra om 'n klein entjie van die land af weg te roei. Hy het gaan sit en die skare van die skuit af onderrig.
4Toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang.”
5“Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.”
6En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. 7Hulle het vir die makkers in die ander boot beduie om hulle te kom help. Toe hulle daar aankom, het hulle albei bote so vol gemaak dat dit begin sink het.
8Toe Simon •Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige mens.”
9Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” 11Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.
Genesing van 'n melaatse
(Matt 8:1-4; Mark 1:40-45)
12En toe Jesus in een van die dorpe kom, staan daar skielik 'n man vol melaatse swere. Toe hy Jesus sien, val hy plat op sy gesig neer en smeek Hom: “Here, as U wil, kan U my rein maak.”
13Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil, word rein!” En sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn. 14Jesus het hom beveel om dit vir niemand te vertel nie en gesê: “Gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskryf het, as bewys vir hulle.”
15Die nuus oor Jesus het egter nog verder versprei. Groot skares het om Hom saamgedrom om na Hom te luister en van hulle kwale genees te word. 16 Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid.
Genesing van 'n verlamde
(Matt 9:1-8; Mark 2:1-12)
17Op 'n dag, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook •Fariseërs en wetgeleerdes gesit, wat uit elke dorpie van Galilea en Judea en van Jerusalem gekom het. Die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees.
18Net toe kom daar mense aan wat 'n verlamde man op 'n slaapmat dra. Hulle wou hom in die huis indra en voor Jesus neersit, 19maar as gevolg van die skare, kon hulle geen manier vind om hom in te dra nie, en het toe op die dakstoep geklim en hom en sy slaapmat tussen die dakteëls deur laat afsak, tot tussen die mense, reg voor Jesus. 20Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe. ”
21Die skrifkenners en die Fariseërs het hulleself begin afvra: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?”
22Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte? 23Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? 24Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.”
25Onmiddellik het hy daar voor hulle opgestaan, die slaapmat waarop hy gelê het, gevat en huis toe gegaan terwyl hy God prys. 26Almal was verwonderd en het God geprys. Hulle is met diep ontsag vervul en het gesê: “Vandag het ons iets ongeloofliks gesien.”
Roeping van Levi
(Matt 9:9-13; Mark 2:13-17)
27Hierna het Jesus buitentoe gegaan en 'n •tollenaar met die naam Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” 28En hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg.
29Levi het 'n groot feesmaal vir Hom in sy huis gehou waar 'n klomp •tollenaars en ook ander mense saam met hulle vir ete aangeleun het. 30Die •Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”
31Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. 32Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”
Vastyd en feestyd
(Matt 9:14-17; Mark 2:18-22)
33Die mense het vir Hom gesê: “Johannes se dissipels vas en bid gereeld, en die •Fariseërs se dissipels ook, maar u dissipels eet en drink maar voort.”
34Jesus het hulle geantwoord: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? 35Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word. Dan, in daardie dae, sal hulle vas.”
36Hy het vir hulle nog 'n gelykenis vertel: “Niemand skeur 'n stuk materiaal uit 'n nuwe kledingstuk en werk dit op 'n ou kledingstuk vas nie. As mens dit doen, sal die nuwe kledingstuk skeur, en boonop sal die nuwe stuk nie by die ou kledingstuk pas nie.
37“En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. 38Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. 39Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê hy.”

Tans Gekies:

Lukas 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid