LUKAS 3:8-9 - Compare All Versions

LUKAS 3:8-9 ABA (Bybel vir almal)

Nee, julle moet wys julle het verander en julle lewe nou soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en daarom dink julle God sal julle nie straf nie. Julle moenie dit sê nie, dit is nie waar nie. Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom afkap wat nie goeie vrugte dra nie, en dit in die vuur gooi.”

LUKAS 3:8-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

LUKAS 3:8-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

LUKAS 3:8-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

LUKAS 3:8-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Dra dan vrugte wat bekering verdien, en begin nie by julleself te sê: Ons het Abraham vir ons vader nie; want Ek sê vir julle dat God magtig is om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. En nou word ook die byl teen die wortel van die bome gelê: elke boom wat dus nie goeie vrugte dra nie, word afgekap en in die vuur gegooi.

LUKAS 3:8-9 DB (Die Boodskap)

Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.”

LUKAS 3:8-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Bewys deur julle lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. Moenie eers daaraan dink om te sê: ‘Ons is veilig – ons is afstammelinge van Abraham’ nie. God kan hierdie klippe in kinders van Abraham verander. Die byl van God se oordeel is reeds gereed om julle wortels af te kap. Ja, elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, sal afgekap en in die vuur gegooi word.”