LUKAS 3:7-11 - Compare All Versions
LUKAS 3:7-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
LUKAS 3:7-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.
LUKAS 3:7-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hier is ’n voorbeeld van Johannes se prediking aan die skares wat gekom het om gedoop te word: “Julle broeisel slange! Wie het julle gewaarsku om God se komende oordeel te ontvlug? Bewys deur julle lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. Moenie eers daaraan dink om te sê: ‘Ons is veilig – ons is afstammelinge van Abraham’ nie. God kan hierdie klippe in kinders van Abraham verander. Die byl van God se oordeel is reeds gereed om julle wortels af te kap. Ja, elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, sal afgekap en in die vuur gegooi word.” Die skare het gevra: “Wat moet ons dan doen?” Johannes het geantwoord: “As jy twee kledingstukke het, gee een vir die armes. As jy kos het, deel dit met hulle wat honger is.”
LUKAS 3:7-11 DB (Die Boodskap)
’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel? Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.” Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.” Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.”
LUKAS 3:7-11 ABA (Bybel vir almal)
Baie mense het na Johannes toe gekom en gevra dat hy hulle moet doop. Maar Johannes het vir hulle gesê: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. Nee, julle moet wys julle het verander en julle lewe nou soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en daarom dink julle God sal julle nie straf nie. Julle moenie dit sê nie, dit is nie waar nie. Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom afkap wat nie goeie vrugte dra nie, en dit in die vuur gooi.” Die mense vra toe vir Johannes: “Wat moet ons dan doen?” Johannes het vir hulle gesê: “As jy twee stukke klere het, dan moet jy een gee vir iemand wat niks klere het nie. En as jy kos het, dan moet jy kos gee vir mense wat nie kos het nie.”
LUKAS 3:7-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Vir die skare wat in groot getalle na Johannes gestroom het om deur hom gedoop te word, het hy gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die skare vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” En hy het hulle geantwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat niks het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
LUKAS 3:7-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe sê Hy vir die skare wat uitgegaan het om deur Hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle gewaarsku om te vlug vir die toekomstige toorn? Dra dan vrugte wat bekering verdien, en begin nie by julleself te sê: Ons het Abraham vir ons vader nie; want Ek sê vir julle dat God magtig is om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. En nou word ook die byl teen die wortel van die bome gelê: elke boom wat dus nie goeie vrugte dra nie, word afgekap en in die vuur gegooi. En die skare het Hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? Hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee rokke het, laat hom meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, laat hom net so doen.