LUKAS 3:12-18
LUKAS 3:12-18 Bybel vir almal (ABA)
Die tollenaars het ook gekom sodat Johannes hulle kan doop. Hulle het vir hom gevra: “Meneer, wat moet ons doen?” Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie meer tolgeld van die mense vat as wat julle mag vat nie.” Die soldate het ook vir Johannes gevra: “En óns, wat moet ons doen?” Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie mense seermaak of hulle dwing om vir julle geld te gee nie. Julle moet tevrede wees met die geld wat julle kry.” Die mense het toe met mekaar gepraat en gevra of Johannes miskien die Christus is. Johannes het vir almal gesê: “Ek doop julle met water, maar later sal Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Hy sal nou die mense oordeel. Dit sal wees soos wanneer iemand 'n vurk neem om die koring en die kaf op sy dorsvloer van mekaar te skei. Hy maak die koring bymekaar en bêre dit in sy stoorkamer, en Hy verbrand die kaf. Die oordeel van God sal wees soos 'n vuur wat nie ophou brand nie.” Johannes het aangehou om die mense oor baie dinge te waarsku, en so het hy die goeie boodskap vir hulle gebring.
LUKAS 3:12-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie. En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy. En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie, antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie — Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand. Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.
LUKAS 3:12-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?” En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.” Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.” Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.” Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
LUKAS 3:12-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar het ook •tollenaars gekom om gedoop te word , en hulle het hom gevra: “Meester, wat moet ons doen?” Hy het hulle geantwoord: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.” Ook soldate het hom gevra: “En ons, wat moet ons doen?” Vir hulle het hy gesê: “Moenie geld van mense afpers nie, en moet hulle nie vals aankla nie, maar wees tevrede met julle lone.” Omdat die volk allerhande verwagtings gehad het, het almal in hulle harte gewonder of Johannes nie dalk die Christus is nie. Johannes het hulle egter geantwoord: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.” Johannes het die volk ook oor baie ander dinge vermaan, en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
LUKAS 3:12-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het ook tollenaars gekom om gedoop te word en vir Hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Moenie meer eis as wat julle aangewys is nie. En die soldate het hom eweneens geëis en gesê: En wat moet ons doen? En Hy sê vir hulle: Moet niemand geweld aandoen nie en moenie vals beskuldig nie; en wees tevrede met jou loon. En terwyl die volk in verwagting was en almal in hulle harte oor Johannes peins of Hy die Christus is of nie; Johannes antwoord en sê vir almal: Ek doop julle wel met water; maar een wat sterker is as ek, kom, wie se skoene ek nie waardig is om los te maak nie; hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Wie se waaier in sy hand is, en hy sal sy vloer deurgaans suiwer en die koring in sy skuur bymekaarmaak; maar die kaf sal hy met onuitbluslike vuur verbrand. En baie ander dinge het hy in sy vermaning aan die volk verkondig.
LUKAS 3:12-18 Die Boodskap (DB)
’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?” “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?” Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.” Johannes se woorde het die mense aangegryp. Oral het mense onder mekaar begin vra: “Is hy nie dalk die Messias nie?” Maar hy het gou ’n einde aan hierdie praatjies gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in die rivier met water. Maar ’n baie belangrike Man is op pad na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos ’n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal ’n vuur in julle lewens aansteek wat julle lewens van binne af sal skoonmaak. “Hierdie Man wat op pad is na julle toe gaan Israel van hoek tot kant skoonmaak. Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat na Hom luister, sal Hy ’n plek gee in God se splinternuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God steur nie, sal Hy in die vuur van die hel gooi wat nooit ophou brand nie.” Johannes het die mense aangespoor om te doen wat God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink.
LUKAS 3:12-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Selfs tollenaars het gekom om gedoop te word en gevra: “Leermeester, wat moet ons doen?” “Wys julle eerlikheid,” het hy geantwoord. “Maak seker dat julle nie méér belasting invorder as wat vereis word nie.” “Wat moet óns doen?” het die soldate gevra. Johannes het geantwoord: “Moenie geld afpers nie, en moet niemand afdreig of vals beskuldig nie. En wees tevrede met julle salaris.” Almal het verwag dat die Messias gou sou kom en hulle was gretig om te weet of dit dalk Johannes is. Hy het hulle vrae beantwoord deur te sê: “Ek doop met water, maar Iemand wat groter is as ek, kom binnekort – Iemand soveel groter dat ek nie eens werd is om sy slaaf te wees nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. “Hy is gereed om met sy gaffel die kaf van die koring te skei. Hy sal dan die dorsvloer skoonmaak en die graan in sy skuur bêre en die kaf met onblusbare vuur verbrand.” Johannes het baie sulke waarskuwings gebruik in sy verkondiging van die Goeie Nuus aan die mense.