LUKAS 22:24-27
LUKAS 22:24-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.
LUKAS 22:24-27 Bybel vir almal (ABA)
Die apostels het toe met mekaar begin stry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Die konings van die wêreld wil regeer oor hulle mense, en almal wat regeer, hou daarvan dat die mense sê hulle doen baie goeie dinge vir hulle mense. Maar julle moenie so wees nie. As iemand van julle belangrik wil wees, dan moet hy wees soos die jongste van julle, die een wat al die ander moet bedien. As iemand 'n leier wil wees, dan moet hy almal bedien. Want wie is die belangrikste: Die een wat by die tafel sit, of die een wat die mense by die tafel bedien? Natuurlik is dit die een wat by die tafel sit. Maar kyk na My, wat doen Ek? Ek is by julle soos iemand wat die mense by die tafel bedien.
LUKAS 22:24-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie 'n leier is, soos een wat dien. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.
LUKAS 22:24-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien.
LUKAS 22:24-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar was ook 'n twis onder hulle, wie van hulle as die grootste gereken moes word. En hy sê vir hulle: Die konings van die heidene heers oor hulle; en hulle wat gesag oor hulle uitoefen, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die grootste onder julle, laat hom wees soos die jongste; en hy wat die hoof is, soos hy wat dien. Want wat is groter, hy wat aan tafel sit, of hy wat dien? is dit nie hy wat aan tafel sit nie? maar Ek is onder julle soos die een wat dien.
LUKAS 22:24-27 Die Boodskap (DB)
Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die dissipels aan die stry geraak oor wie van hulle die belangrikste is. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie soos baie mense in magsposisies maak nie. Hulle hou daarvan om oor ander baas te speel. Hulle wil gedurig met groot respek behandel word omdat hulle so belangrik is. Maar julle moenie soos hulle wees nie. As julle regtig belangrik wil wees, moet julle die minste wees. Dié van julle wat die meeste respek verdien, moet van nou af die heel geringste wees. Behandel ander mense met groot respek, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen van julle wat ’n baie belangrike posisie wil beklee, moet nou dadelik julle moue oprol en begin om ander gelowiges te dien. “Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan.
LUKAS 22:24-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners. “By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien.