Lukas 22

22
Sameswering teen Jesus
(Matt 26:2-5,14-16; Mark 14:1-2,10-11; Joh 11:47-53)
1Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood, bekend as die Pasga. 2 Die leierpriesters en die skrifkenners het bly soek na 'n geskikte manier om Hom dood te maak, omdat hulle bang was vir die volk.
3 Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is, een van die twaalf, ingevaar. 4Hy het weggegaan en met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag onderhandel oor hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. 5Hulle was bly, en het afgespreek om hom geld te gee. 6Hy het ingestem, en aanhou soek na 'n gepaste geleentheid om Hom aan hulle oor te lewer in die afwesigheid van die skare.
Voorbereiding vir die Pasga
(Matt 26:17-19; Mark 14:12-16)
7Die dag van die Ongesuurde Brood, waarop die Pasgalam geslag moes word, het aangebreek. 8Jesus stuur toe vir •Petrus en Johannes, met die woorde: “Gaan berei vir ons die Pasga voor, sodat ons dit kan eet.” 9Hulle het vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons voorbereidings tref?” 10En Hy antwoord hulle: “Kyk, sodra julle die stad binnegaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle tegemoetkom. Volg hom na die huis waar hy ingaan, 11en sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra u: “Waar is die gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?” ’ 12Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig is. Daar moet julle voorbereidings tref.” 13Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei.
Instelling van die Nagmaal
(Matt 26:20,23-28; Mark 14:17,20-25; Joh 13:21-26; 1 Kor 11:23-25)
14Toe die uur aanbreek, het Hy en die •apostels saam met Hom vir ete aangeleun. 15Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die •koninkryk van God nie. ” 17Daarna het Hy 'n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. 18Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” 19 En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” 20So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. 21Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel. 22Want met die •Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” 23 Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen.
Ware grootheid
(Matt 20:24-28; 19:28; Mark 10:41-45; 9:35; Joh 13:4-5,12-17)
24Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. 25 Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. 26Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. 27 Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien.
28“Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het. 29 Ek bemaak aan julle 'n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het, 30sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel. ”
Waarskuwing aan Petrus
(Matt 26:31-35; Mark 14:27-31; Joh 13:36-38)
31“Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” 33•Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” 34Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie. ”
35Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. 36Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter 'n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop. 37Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” 38Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.”
Jesus in Getsemane
(Matt 26:36-41; Mark 14:32-38)
39 Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” 41Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” 43Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. 45Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. 46En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. ”
Jesus gevange geneem
(Matt 26:47-56; Mark 14:43-49; Joh 18:3-11)
47Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. 48Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” 49Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” 50 Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. 51Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. 52Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? 53Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ”
Verloëning deur Petrus
(Matt 26:57-58,67-75; Mark 14:53-54,65-72; Joh 18:13-18,25-27)
54Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. •Petrus het op 'n afstand gevolg. 55Hulle het 'n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. 56Toe 'n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” 57Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 58'n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” 59Ná ongeveer 'n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook 'n Galileër!” 60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het 'n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat 'n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.
63Die manne wat Hom gevange gehou het, was besig om die spot met Hom te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: “Toe, profeteer! Wie is dit wat u geslaan het?” 65En hulle het aangehou om Hom nog baie ander beledigende dinge toe te voeg.
Jesus voor die Sanhedrin
(Matt 27:1; 26:63-65; Mark 15:1; 14:61-64; Joh 18:19-24)
66Teen dagbreek het die Raad van Familiehoofde byeengekom, die leierpriesters en skrifkenners, en hulle het Hom na hulle Sanhedrin weggelei. 67Hulle het gesê: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy sê vir hulle: “As Ek dit vir julle sê, sal julle My beslis nie glo nie. 68En as Ek 'n vraag vra, sal julle beslis nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal ‘die •Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige. ’ ” 70Toe vra hulle almal: “Is jy dus die •Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.” 71Daarop sê hulle: “Waarom het ons enige verdere getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy mond gehoor!”

Tans Gekies:

Lukas 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid