LUKAS 20:34-38
LUKAS 20:34-38 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “In hierdie lewe trou mense met mekaar. Maar wanneer God Koning is, dan sal Hy die mense wat in Hom glo en wat gesterf het, weer laat lewe. Dan sal mense nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Want hulle sal wees soos die engele wat nie sterf nie en wat by God in die hemel woon. Maar dit kan net gebeur as God hulle weer laat lewe. Moses het ook vir ons gesê mense wat gesterf het, sal weer lewe. Hy het geskryf oor die bos wat gebrand het. Daar sê Moses die Here is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe. Want vir God is almal wat in Hom glo, mense wat lewe.”
LUKAS 20:34-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.
LUKAS 20:34-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ . Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
LUKAS 20:34-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ”
LUKAS 20:34-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die kinders van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee. Maar hulle wat waardig geag sal word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie; Hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is gelyk aan die engele; en is die kinders van God, synde die kinders van die opstanding. Noudat die dooies opgewek is, het selfs Moses dit by die bos laat sien toe hy die Here die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob noem. Want Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal lewe vir Hom.
LUKAS 20:34-38 Die Boodskap (DB)
Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.”
LUKAS 20:34-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee, maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is. Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.”